Formule Een: Net een punt skei Ferrari en Mercedes

Sebastian Vettel van Duitsland by die Baku Formule 1-stadbaan in Azerbaijan. Foto: AP Photo/Luca Bruno

Dié week val die kollig op Formule Een wanneer die aksie na die Paul Ricard Le Castellet-baan in Frankryk verskuif.

Die Franse Formule Een Grand Prix sal die agtste wedren van die seisoen wees en word Sondag gejaag. Op die oomblik is daar net een punt verskil tussen Ferrari en Mercedes se twee toprenjaers.

Die Kanadese Formule Een Grand Prix is elf dae gelede (10 Junie) op die Gilles Villeneuve-baan in Montreal gejaag. Dit was die sewende wedren van die seisoen en is deur Sebastian Vettel in sy Ferrari gewen. Dit was Vettel se 50ste oorwinning van sy loopbaan en hy het daarmee die nuwe voorloper op die punteleer geword. Valtteri Bottas (Mercedes) was tweede en Max Verstappen (Red Bull) derde. Verstappen se spanmaat, Daniel Ricciardo, was vierde met Lewis Hamilton vyfde.

Die voorloper op die punteleer is Sebastian Vettel (Ferrari) met 121 punte. Lewis Hamilton (Mercedes) is tweede met 120 punte en Valtteri Bottas (Mercedes) beklee die derde plek met 86 punte. Daniel Ricciardo (Red Bull) is vierde met 84 en Kimi Raikkonen (Ferrari) vyfde met 68.

Komende naweek pak die twee voorlopers op die punteleer (Vettel en Hamilton) mekaar in Frankryk. Die Paul Ricard Le Castellet-baan is 5,842 km lank en spog met vier lang pylvakke en 15 draaie. Die eerste van veertien Formule Een-wedrenne is reeds in 1971 op dié baan aangebied.

Lewis Hamilton. Foto: AP Photo/Rebecca Blackwel

Behalwe Ferrari en Mercedes, wat hulself al die seisoen bewys het, het Red Bull die afgelope tyd gewys hulle het nog nie boedel oorgegee wat die kampioenskapstitel betref nie. Dit is dus nie net ʼn wedren wat dopgehou moet word om te sien wie sy neus gaan voorkry op die punteleer nie, maar ook een om te sien of Red Bull sy seisoen lewendig gaan hou.

Die groot nuus van die week is dat Red Bull sy verbintenis met Renault gaan verbreek en dat hulle vir die volgende twee jaar ʼn ooreenkoms met Honda geteken het. Red Bull was vir ʼn geruime tyd al teleurgesteld in die kraglewering van Renault se enjins. Red Bull hoop om met die nuwe enjins die gaping tussen hulself en Mercedes asook Ferrari te verklein.

Die oefenrondes word Vrydag en Saterdag afgehandel terwyl die kwalifisering Saterdagmiddag plaasvind. Die hoofwedren se wegtrek is Sondag om 16:10.

Die volgende wedren is aanstaande Sondag in Oostenryk.

Klik hier vir meer inligting.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Andre van Wyk ·

Neem aan die baan is 5842 m (5.842Km) lank en nie 5842Km lank soos berig word nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.