Drama, drama en nogmaals drama. Dit is hoe Sondag se Formule Een-Grand Prix in Bahrein in die annale opgeteken sal word nadat die ren deur twee ernstige ongelukke ontwrig en lank gestaak is.
Die eerste het plaasgevind kort ná die wegspring in die derde draai toe Romain Grosjean (Haas) skuins oor die baan gejaag het en teen ʼn veiligheidsreling vasgejaag het.
Sy motor het in twee geskeur en hy was vir ʼn ruk lank vasgepen in die voorste deel wat in die reling verstrengel was. Die wrak het in vlamme uitgebars en die mediese beamptes se motor, onder leiding van die oud-Suid-Afrikaanse renjaer Alan van der Merwe agter die stuur, was dadelik op die toneel.
Dit was beelde uit ʼn riller-rolprent toe Grosjean uit die brandende wrak oor die reling klim terwyl veiligheidsbeamptes hom en die wrak met die brandblussers bespuit het.
Grosjean het sy lewe te danke aan die sogenaamde wensbeen wat nou deel van die bestuurskajuit is en bo-oor die koppe van die jaers geïnstalleer is.
Die ren is dadelik gestaak en Grosjean, wat brandwonde aan sy hande en voete opgedoen het en dalk ook van sy ribbes gebreek het, is na ʼn plaaslike hospitaal geneem waar hy behandel word.
Nadat die ren vir sowat 90 minute gestaak is en hierna hervat is, het Lance Stroll se Racing Point in die derde rondte ná ʼn ligte botsing omgeslaan. Die asem is weer opgehou terwyl Stroll onder uit die wrak gekruip het. Die veiligheidsmotor is vir verskeie rondtes ontplooi, maar Stroll is gelukkig net liggies beseer.
Kort voor die einde het Sergio Perez (Racing Pont) se motor ook aan die brand geslaan, maar die vlamme is baie gou geblus.
Vir die rekord: Lewis Hamilton (Mercedes) het sy 95ste loopbaanoorwinnig behaal, met Max Verstappen (Red Bull) tweede en Alexander Albon (Red Bull) derde.
WOW! Drie ongelukke in een ren. Dit is ‘n riller!
2 ongelukke.
Alan van der Merwe, dankie dat jy SA se vlaggie daar ook laat wapper het.
Dis was ‘n my ‘n emosie belaaide oomblik toe Guenther Steiner jou ook kom bedank het, en so nederig soos wat jy is het jy maar net vir hom vertel dat jy jou werk gedoen het. Nee, jou werk behels om die kar te bestuur en nie na brandende karre te hardloop om bestuurders uit vlamme te red nie. Die hele wêreld het dit gesien en ek dink dit verdien ‘n pluimpie. Martin Brundle het nogal opgemerk dat jy as die bestuurder van die dag aangewys moet word, en ek stem volkome saam!!!!
Give this man a Bells!!!!
2 ongelukke en ‘n 3de brandende kar ( Perez)