Formule Een: Vettel en Ferrari maak geskiedenis in Montreal

Sebastian Vettel (Foto: F1, Twitter)

Die Kanadese Formule Een Grand Prix is Sondagaand gejaag. Die wedren op die Gilles Villeneuve-baan in Montreal was die sewende wedren van die seisoen en is deur Sebastian Vettel in sy Ferrari gewen. Dit was Vettel se 50ste oorwinning van sy loopbaan en hy is ook boonop die nuwe voorloper op die punteleer. Ferrari kon laas in 2004 in Kanada seëvier. Valtteri Bottas (Mercedes) was tweede en Max Verstappen (Red Bull) derde.

Die oefenrondes in Kanada het Vrydag begin terwyl die wegspringrooster Saterdag tydens die kwalifisering bepaal was. Sebastian Vettel (Ferrari) was eerste op die wegspringrooster. Valtteri Bottas (Mercedes) was tweede gevolg deur Max Verstappen (Red Bull) derde. Lewis Hamilton (Mercedes) was vierde en Kimi Raikkonen (Ferrari) vyfde.

Met die wegspring het die voorste renjaers hul posisies deur die eerste paar draaie behou. Lance Stroll en Brendan Hartley was egter in ronde een in ʼn ongeluk betrokke en die veiligheidsmotor moes ontplooi word. Die wedren is in ronde vyf hervat met 18 motors wat nog in aksie was.

Van die voorste jaers het in die 17de ronde begin om bande te ruil. Kimi Raikkonen (Ferrari) het opgeskuif na derde plek agter Bottas. Daniel Ricciardo (Red Bull) het in dié tydperk by Lewis Hamilton (Mercedes) verbygeskuif om die vyfde plek in te neem. Vettel (Ferrari) het aan die voorpunt die beste ronde-tyd aangeteken en sy voorsprong oor Valtteri Bottas (Mercedes) groter gemaak.

Met die aanbreek van ronde veertig was die volgorde Vettel (Ferrari), Bottas (Mercedes) en Verstappen (Red Bull). Ricciardo (Red Bull) was vierde, Hamilton (Mercedes) was vyfde en Raikkonen (Ferrari) sesde.

Sake het dieselfde gebly tot aan die einde van die wedren. Sebastian Vettel in sy Ferrari het gemaklik gewen en hy het sy 50ste oorwinning van sy loopbaan behaal. Valtteri Bottas (Mercedes) was tweede en Max Verstappen (Red Bull) derde. Verstappen se spanmaat Ricciardo was vierde met Hamilton vyfde en Raikkonen sesde.

Die nuwe voorloper op die punteleer (na sewe wedrenne) is Sebastian Vettel met 121 punte. Lewis Hamilton is tweede met 120 punte en Valtteri Bottas beklee die derde plek.

Die volgende wedren is die Franse Formule Een Grand Prix op 24 Junie.

Klik hier vir meer inligting.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

ai ·

Was effens vervelige wedren – die grap van die jaar was natuurlik die “super model” wat die wenvlag (chequered flag) te vroeg gewaai het! Ai tog…bly maar by modelwerk meisie!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.