Formule Een: Vettel moet vorm in Spanje herwin

Ferrari se Sebastian Vettel. (Foto: Andy Wong, AP)

Die vyfde Formule Een Grand Prix van die 2018-seisoen word die naweek in Spanje afgehandel.

Die wedren word in Barcelona op die Catalunya-baan gejaag. Sebastian Vettel (Ferrari) het die seisoen baie goed begin met twee eerste plekke, maar in die laaste twee wedrenne het hy stoom verloor met onderskeidelik ʼn agtste en vierde plek. Dit is ten spyte van die feit dat hy eerste op die wegspringrooster was.

Lewis Hamilton (Mercedes), het met sy oorwinning in die vorige Grand Prix (Azerbaidjan), die momentum by Vettel oorgeneem en ook sommer die voortou op die punteleer geneem. Kimi Raikkonen (Ferrari) was tweede in die wedren en Sergio Perez in sy Force India derde. Vettel kon net vierde eindig.

Die Catalunya-baan spog met sestien draaie en die renjaers sal 66 rondes op die 4,655 km lange baan voltooi. Die totale afstand wat die jaers op die stamperige baan gaan aflê, is 307 km. Kimi Raikkonen hou die baanrekord met ʼn tyd van 1:21.670 sekondes wat hy presies tien jaar gelede opgestel het. Michael Schumacher het ses oorwinnings op die baan behaal.

Valtteri Bottas. Foto: AP Photo/Nelson Antoine

Behalwe Hamilton en Vettel moet Valtteri Bottas (Mercedes) fyn dopgehou word. Hy was op pad om eerste te eindig in Azerbaidjan, maar het in die doodsnikke ʼn pap band gekry wat die einde van sy wedren beteken het.

Daar is verseker hard gepraat met die twee Red Bull-renjaers ná hulle botsing in Azerbaidjan. In die 40ste van 51 rondes het die twee spanlede, Max Verstappen en Daniel Ricciardo, in mekaar vasgejaag en beide se wedrenne was oor. Die hele petalje was uiters onnodig en het die span baie punte gekos.

Die wegspringrooster is altyd van belang. Sondag se baan het ʼn baie vinnige sektor een waarvan die eerste draai na die pylvak nie te skerp is nie en gevolg word deur ʼn slap tweede draai en dan ʼn baie lang, uitgerekte derde draai. Dit behoort aan die jaers die kans te gee, om nie soos in die vorige ren, met stampe en stote in die eerste ronde te sukkel nie.

Vanjaar se vroeë tweestryd, om as Wêreldkampioen gekroon te word, lê tussen Hamilton en Vettel. Net vier punte skei die twee renjaers op die punteleer.

PosRenjaerSpanPunte
1Lewis HamiltonMercedes GP70
2Sebastian VettelFerrari66
3Kimi RaikkonenFerrari48
4Valtteri BottasMercedes GP40
5Daniel RicciardoRed Bull37
6Fernando AlonsoMcLaren28
7Nico HulkenbergRenault22
8Max VerstappenRed Bull18
9Sergio PerezForce India15
10Carlos SainzRenault13

Gaan Hamilton of Vettel ʼn groter gaping op die punteleer bewerkstellig? Dit kan egter gebeur dat Kimi Raikkonen, Valtteri Bottas, Daniel Ricciardo of Fernando Alonso dalk die spreekwoordelike kat in die duiwehok gaan wees?

Die eerste oefenrondes vir die Spaanse Formule Een Grand Prix word Vrydag tussen 11:00 en 12:30 gehou en die tweede sessie is van 15:00 tot 16:30. Die derde oefening sal Saterdag van 12:00 tot 13:00 plaasvind terwyl die kwalifisering die middag tussen 15:00 – 16:00 afgehandel word. Die hoofwedrenbegin Sondag om 15:10.

Klik hier vir meer inligting.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.