Foto: Federer skenk sy Kaapse wedstrydraket aan Rafa

Rafael Nadal, Bill Gates en Roger Federer in die Kaap. Foto: Twitter.

In professionele tenniswedstryde was Roger Federer en Rafael Nadal al 40 keer slaags. Die Spanjaard loop met 24 seges teenoor Federer se 16 voor, maar hul vriendskap gaan steeds van krag tot krag.

Pas nadat hulle ’n nuwe tenniswêreldrekord van meer as 51 000 toeskouers by hul Match in Africa-vertoonwedstryd in Kaapstad opgestapel het én $3,5 miljoen vir Federer se liefdadigheidsorganisasie ingesamel het, het die Switserse tennislegende sy Spaanse vriend op ’n spesiale wyse bedank.

Die 38-jarige Federer het die raket wat hy gedurende die skouspel gebruik het, onderteken en aan Nadal oorhandig.

“Rafa, dankie vir jou volgehoue ondersteuning. Dit is altyd ’n voorreg. Kaapstad 2020.” Só het hy op die handvatsel saam met sy handtekening geskryf.

Nadal se tennisakademie het ’n foto van die raket op hul Twitter-rekening geplaas en gesê dit sal in hul museum saam met ander tennis-memorabilia uitgestal word.

Die twee supersterre was Saterdag eers in dubbelspel-pret saam met Trevor Noah en Bill Gates in aksie, waarna hulle mekaar in ’n enkelspelstryd aangevat het.

Die raket wat Federer geskenk het. Foto: Twitter.

Federer het met 6-4, 3-6 en 6-3 gewen.

“Die atmosfeer in die stadion was elektries en ek dink nie ons kan heeltemal ons gevoelens verwoord nie. Dit is ’n een-keer-in-’n-leeftyd-ervaring om voor só ’n skare in ’n ongelooflike stadion te speel,” het Nadal ná die wedstryd gesê.

Op sy beurt was Federer ewe in sy noppies met die ervaring.

“Dit is ’n ongelooflike voorreg om vanaand hier te wees. Natuurlik het ons probeer om met ons beste spel vorendag te kom; dit is immers waarvoor ons bekend is. Terselfdertyd was dit ’n absolute plesier om die baan weer met Rafa te deel en om vir die eerste keer hier in die pragtige Kaap te speel. Dit het alles net soveel meer spesiaal gemaak,” het Federer gesê.

“Vanaand het oor soveel meer as net tennis gegaan en ek hoop van harte dat ons dit weer sal kan doen. Ek hoop dat Rafa dit weer eendag sal kan kom saamdoen; om weer terug na dié mooi land te kom. Ek is trots daarop om ’n verbintenis met Suid-Afrika te hê.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.