Foto’s: Modderige Baviaanskloof-marathon laat fietsryers ploeter

(Foto: Jacques Marais)

Deur Jacques Marais

Die Trans Baviaans 24-uur‑bergfietsmarathon was nog altyd uitdagend, maar vanjaar het die ysreën en koue temperature ʼn ekstra stukkie waagmoed van fietsryers gevra.

Hierdie fietsresies oor 230 km se rowwe grondpaaie het nou al so gewild geword dat daar elke jaar twee byeenkomste plaasvind.

Die jongste wedren het Saterdag van Willowmore tot in Jeffreysbaai plaasgevind waar die Uncle Fish-span die mansafdeling gewen het. Die gemengde afdeling se titel is deur Madmacs/Coopetto/Davin Trust ingepalm terwyl Action Cycles die vroue-afdeling gewen het.

Wedren

Emosies loop hoog wanneer dié berugte Baviaanswedren elke jaar in Willowmore se hoofstraat afskop. Die 1 200 deelnemers spandeer egter nie veel tyd op teer nie, en trap sommer gou met ʼn tweespoorpad deur Poortjies op pad na die Baviaanskloof propper toe.

Gelukkig is die eerste ongeveer 26 km tot bo-op die skouspelagtige Nuwekloofpas redelik plat, en dan raak dinge redelik rof. Vir die volgende 80 km of so stofstreep die roete verby afgeleë plase en gemeenskappies soos Studtis voor die eerste fietse die beroemde Baviaanskloof-wêrelderfenisgebied se wildernishart bereik.

(Foto: Jacques Marais)

Die uitmergelende opdraandes begin by Geelhoutbos, en dit is tegelykertyd mooi en moeilik, met die MAK (Moeder van Alle Klimme) tot op die hoogste punt by Bergplaas wat wag. Hiervandaan slinger die grondpad teen volle vaart met ’n steil afdraand langs tot in die Cambria-vallei en dan verby Komdomo-kamp. Volg die roete padlangs tot naby Patensie, waar jy afdraai Humansdorp toe.

Na sowat 170 km verlaat jy uiteindelik die Baviaanskloof self, maar moenie dink dit gaan nou rustig raak nie. Die EcoBound‑mense noem hierdie stuk die Never-Ender, oftewel die Nimmer-Einder. Daardie laaste 60 km+ tot in Jeffreysbaai is net so duskant doodsake, veral vir die agterryers wat gedurende die vroeë oggendure bult-op en ‑af gaan swoeg.

Hier is Jacques Marais se topfoto’s van dié jaar se wedren.

Gaan loer by www.transbaviaans.co.za vir meer inligting.

(Foto: Jacques Marais)

Resultate:

(Foto: Jacques Marais)

Eerste drie

1. Uncle Fish: Nico Bell, Gawie Combrinck en Gerrit de Vries (9:43:49)
2. Madmacs/Coopetto/Davin Trust: Yolande de Villiers en Drikus Coetzee (9:59:36)
3. Pitstop Sport: Malcolm Isaacs en Conway Oliver (10:21:46)

Manspanne

1. Uncle Fish: Nico Bell, Gawie Combrinck en Gerrit de Vries (9:43:49)
2. Pitstop Sport: Malcolm Isaacs en Conway Oliver (10:21:46)
3. Coimbra: Vickus Boshoff en Jan-Paul Gerber (11:05:16)

Gemengde spanne

1. Madmacs/Coopetto/Davin Trust: Yolande de Villiers en Drikus Coetzee (9:59:36)
2. MG Coaching: Johanet Heymann, Dirk van Wyk en Massimo Guglielmi (12:08:51)
3. Ronald, Heleen, Laurent: Ronald Jessop, Heleen Rossouw en Laurent Monvoisin (14:53:41)

Vrouespanne

1. Action Cycles: Juanita Mackenzie en Nicola Freitas (11:32:17)
2. Chicks with Kicks: Maretha Bezuidenhout en T Janse van Rensburg (12:41:22)

(Foto: Jacques Marais)

(Foto: Jacques Marais)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Perdeby ·

En word in die nag langs die treinspoor met klippe in die gesig gegooi!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.