Foxx bult sy spiere vir Tyson-fliek

Die Hollywood-ster, Jamie Foxx, is besig om spiere vir sy rol as Mike Tyson te bou. Foto: Instagram.

Kort ná die aankondiging dat Liam Hemsworth die bokshandskoene van Suid-Afrika se eie Gerrie Coetzee in die rolprent Gerrie sal dra, wag daar nóg ʼn lekker vooruitsig op sportliefhebbers.

Die Hollywood-ster Jamie Foxx het bevestig dat hy die rol van die Baddest Man on the Planet sal vertolk in ’n biografiese rolprent oor die legendariese swaargewigbokser Mike Tyson se lewe.

“Ons is beslis daarmee besig. Maar dit kan moeilik wees om ’n biografiese rolprent te takel; soms neem dit tot 20 jaar. Ek kan egter bevestig dat die bal aan die rol is,” het Foxx op ’n Instagram Live-reeks gesê.

Tyson se merkwaardige loopbaan is gekenmerk deur omstrede oomblikke – soos die berugte Evander Holyfield-oorbyt in 1997 – maar ook deur ongelooflike talent. Sy ystervuis het gesorg dat 44 van sy 50 oorwinnings in die kryt te danke aan uitklophoue was.

Hy het onlangs op 53-jarige ouderdom aangedui dat hy weer sal wil boks en kenners is verstom oor sy vaardigheid- en fiksheidsvlakke.

Om die rol so akkuraat as moontlik te vertolk, moet Foxx ure in die gimnasium deurbring. Hy vertel dat sy oefenroetine gereeld 60 optrekke en 100 opstote (onder andere) insluit.

“Ek wil ongeveer 97 kg weeg wanneer die vervaardigingsproses begin, terwyl my gewig later na 104 kg moet opskiet.

Mike Tyson. Foto: Twitter.

“Ek belowe jou, mense gaan verby my in die straat stap en dink ek is Mike Tyson,” het hy geskerts.

Volgens Foxx het hy Tyson die eerste keer ontmoet toe hy ’n 22-jarige komediant was.

“Ek het ’n grappie oor Tyson vertel en niemand het gelag of hande geklap nie. Waarom? Want Tyson was in die gehoor.”

Foxx hoop dat die rolprent elke faset van Tyson se interessante en omstrede lewe sal vasvang.

“Ons wil wys dat enigiemand kan verander. Wanneer mense die fliek kyk, moet hulle Tyson se lewenspad verstaan.”

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.