Frank se breëbors-prestasie!

Frank Janse van Rensburg op pad na sy SA rekord. Foto: verskaf.

“Ek ‘bench’ elke naweek vir die vierde rugbyspan,” is die flouerige slotsom van baie seremoniemeesters se grappies by troues.

Maar as jy vir Frank Janse van Rensburg vra hoeveel hy kan bankiedruk (bench press), sal jy ’n heeltemal anderste antwoord kry.

Die 38-jarige het onlangs die Suid-Afrikaanse bankiedrukrekords laat spat toe hy 300 kg by die Power Wars-kompetisie opgestoot het.

Moet egter nie dink dat dié breëbors-prestasie sommer net oornag gebeur het nie. Janse van Rensburg vertel dat dit jare lange voorbereidingswerk geverg het.

“Dit neem tyd, harde werk en jy moet beslis geestelik sterk wees. Ek is nie noodwendig die mees talentvolle atleet nie en daar is maar baie beserings wat karring. Tog het jare lange harde werk, ’n kanniedood-houding en goeie oefenprogramme my gebring tot waar ek is.”

Sy reis het in 2006 begin – “en ek kon toe skaars 100 kg opstoot”. Dit het hom dus 13 jaar geneem om die magiese 300 kg-kerf te bereik.

“Ek dink dit is die belangrikste om aan jou tegniek te skaaf – dit lê die fondament vir sterk prestasies later in jou loopbaan. Krag is iets wat tyd neem om op te bou en jy moet altyd aandag aan jou swakpunte gee. Natuurlik is die herstelproses tussendeur die oefensessies net so belangrik,” het Janse van Rensburg gesê.

Hy was nie net in Suid-Afrikaanse gimnasiums in aksie nie, maar ook op die internasionale verhoog. Hy was verlede jaar by die WPC Powerlifting-wêreldkampioenskap te siene waar hy die 140 kg-kategorie gewen het met sy poging van 275 kg.

“Ek wil bitter graag my titel vanjaar verdedig, maar ek is nog op soek na ’n borg.”

Janse van Rensburg hou die SA rekord van 300 kg. Foto: verskaf.

Moet ook nie dink dat dit ’n sogenaamde “veilige” sportsoort soos skaak of rolbal is nie. “Die gewigte kan ernstige skade aanrig en selfs ’n atleet se dood veroorsaak.”

Hy was al skrikkerig dat hy die gewigte gaan laat val, maar hy meen dat hy dié energie positief kan benut.

“Baie mense is huiwerig, maar ek glo ek gebruik die senuwees om harder te konsentreer en dat my tegniek so na moontlik aan perfek is – ek skaaf steeds met elke oefensessie aan my tegniek. Natuurlik help dit ook om mense om my te hê wat ek vertrou – veral wanneer swaar gewigte betrokke is.”

Sal hy swaarder kan gaan?

“Dit is waarna ek werk. Die nasionale kampioenskap is in Junie. En ek wil probeer om dáár swaarder te gaan.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae