Franse Ope: Toeskouers moet bewys hulle is Covid-vry

Verlede jaar se eindstryd tussen Rafael Nadal en Novak Djokovic in Frankryk. Foto: Thomas Samson/AFP.

Organiseerders van die Franse Ope het vandag bevestig dat toeskouers wat die tennisskouspel in Parys wil bywoon, sal moet bewys dat hulle nie Covid-19 het nie.

Amélie Oudéa-Castéra, direkteur-generaal van die Franse tennisbeheerliggaam (FFT), het gesê dat toeskouers ’n negatiewe toetsuitslag (nie ouer nie as 48 uur) as bewys moet toon om toegang te verkry. Andersins sal ’n inentingsertifikaat ook voldoende wees.

Die gewilde toernooi is juis vroeër weens Covid-regulasies met ’n week uitgestel.

Tog het Jean-Michel Blanquer, Frankryk se minister van sport, verlede week gesê dat daar tot 1 000 toeskouers (35% van algehele kapasiteit) op elk van Roland-Garros se drie hoofbane toegelaat sal word.

Wanneer die kwarteindstryd-rondes begin, kan tot 5 000 toeskouers (65%) per baan die wedstryde bywoon; mits die wêreldwye pandemie nie weer ’n stokkie daarvoor steek nie.

Die toernooi begin op 30 Mei, met die manseindstryd wat op 13 Junie beslis sal word, waar die verdedigende kampioen Rafael Nadal sal poog om sy 14de titel in te palm.

Die 34-jarige Spanjaard het verlede jaar die wêreldno. 1-speler, Novak Djokovic, van die baan gevee om verspotmaklik met 6-0 en 6-2 te wen.

Kommentators het dit as die beste vertoning ooit op ’n kleibaan bestempel, terwyl Roger Federer hom onmiddellik met sy prestasie geluk gewens het.

“Dit is vir my ’n reusevoorreg om Rafa met sy 20ste Grand Slam geluk te wens. Wat sy prestasie veral ongelooflik maak, is dat hy nou al 13 keer op Roland-Garros gewen het – een van die beste prestasies in sport,” het Federer gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Anoniem ·

As dit voortaan die vereistes vir sport bywoning is, kan hulle maar gerus alle sport staak.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.