Franse sokkerspeler sterf ná 39 jaar in koma

Jean-Pierre Adams (heel regs) gesels met die skeidsregter. Foto: Twitter.

Die voormalige Franse sokkerspeler, Jean-Pierre Adams, is in die ouderdom van 73 dood.

Die Senegalese boorling is in 1982 vir ’n knieoperasie in die hospitaal opgeneem, maar hy het nooit sy bewussyn herwin nie nadat daar ’n fout met die toediening van sy narkose begaan is.

Adams het in 22 wedstryde vir Frankryk gespeel, terwyl hy in meer as 140 wedstryde vir Nice uitgedraf het. Hy het in sy loopbaan ook vir Paris St-Germain en Nimes gespeel.

Volgens die BBC het mediese personeel op die dag van sy operasie in Lyon gestaak. Die narkotiseur moes na agt pasiënte in verskillende vertrekke omsien en Adams was onder die toesig van ’n onervare assistent.

Adams het  22 wedstryde vir Frankryk se nasionale sokkerspan gespeel. Foto: AFP.

Te midde van die druk waaronder hulle moes werk, is een van die pypies wat die sokkerster van suurstof moes voorsien verkeerd geplaas en dit het eerder die pad na sy longe versper.

Tussen die twee is verskeie foute gemaak wat daartoe gelei het dat Adams se hart onder meer gaan staan het. Hy het ook breinskade opgedoen.

Hy is ná 15 maande uit die hospitaal ontslaan waarna sy vrou, Bernadette, amper 40 jaar lank na hom omgesien het.

“Bernadette Adams is ’n merkwaardige vrou, saggeaard dog sterk, wat nie een keer daaraan gedink het om haar man se lewensondersteuningstelsel af te skakel nie. Sy het daagliks vir hom skoon klere aangetrek, kos gemaak en nooit vergeet om vir hom verjaardaggeskenke te koop nie,” het die BBC se Piers Edwards in ’n huldeblyk geskryf.

Nice het op sosiale media gedeel dat hulle op 19 September hulde aan Adams vóór hul wedstryd teen Monaco sal bring.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Anel ·

Mens sien selde meer sulke toewyding en opofferende liefde.. <3

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.