Froning steeds ’n individu om mee rekening te hou

Foto: Twitter.

Die laaste keer wat Rich Froning in ’n individuele hoedanigheid by die CrossFit-spele in aksie was, was in 2014 toe hy vir die vierde agtereenvolgende keer met die louere weggestap het.

Sean Woodland se opgewonde “Rich Froning is the fittest man in history!”-insetsel vanuit die kommentatorshokkie weerklink nog steeds wanneer daar op YouTube na CrossFit-hoogtepunte gesoek word.

Sedertdien is Froning aan die stuur van CrossFit Mayhem se span; ’n groep wat reeds vier keer die Spele se spanafdeling gewen het.

Maar tussen sy voorbereiding deur saam met spanlede Andrea Nisler, Taylor Williamson en Chase Hill, maak hy steeds tyd om aan sy individuele vaardighede te slyp.

Die 33-jarige Amerikaner is steeds ’n krag in die sport en hy het vyfde in die pas voltooide wêreldwye Ope klaargemaak: as ’n individu.

Op die koop toe het hy beter as hardebaarde soos Noah Ohlsen, Pat Vellner en Brent Fikowski gevaar.

Maar kom dit as ’n verrassing?

Nie as jy na CrossFit-veterane soos Josh Bridges en Mat Fraser luister nie. Volgens dié twee is Froning steeds van die fiksste CrossFitters op die internasionale verhoog, terwyl hy basies steeds sy dae om oefen.

Foto: Twitter.

Daarbenewens is hy ’n uitgesproke Christen wat nie skroom om sy getuienis met ander te deel nie.

Die katarsis-oomblik in Froning se lewe het in 2010 gekom toe hy as ʼn individuele atleet in die Spele voorgeloop het. ’n Swak touklimsessie het egter daardie jaar sy kans om goud te wen in die wiele gery. Hy was platgeslaan.

Hy vertel dat hy ’n afgod van CrossFit gemaak het en toegelaat het dat dit sy lewe oorheers; hy het sy waarde as individu in die sport geplaas.

Kort daarna het hy weer die Bybel noukeurig begin bestudeer en opnuut sy lewe aan die Here gewy.

“Alles wat ek in die Nuwe Testament gelees het, was op my lewe van toepassing. Dit is soos hulle sê ’n Lewende Woord, en dit was lekker om dit vir die eerste keer self te ervaar en nie net die woorde op die papier te sien nie,” het hy gesê.

Een van die verse wat vir Froning uitstaan, is Galasiërs 6:14: “Maar ek – ek wil my op niks anders beroem as die kruis van ons Here Jesus Christus nie. Want daardeur is die wêreld vir my gekruisig, en ek vir die wêreld.”

Hy vertel dat sy prioriteite daarna onmiddellik verander het. “Ek het nie meer gevra wat die Here vir my kan doen nie, maar wat ék vir Hóm kan doen.”

“Om Jesus eerste in my lewe te plaas, het die druk van my skouers gehaal. Ek weet dat wat ek ook al doen, is nie vir myself nie. Dit gaan nie oor die CrossFit Spele óf om vier keer met die Fiksste Man op Aarde-titel weg te stap nie. Dit gaan oor die Here en die gawes wat Hy my gegee het. En ek wil sy Naam groot maak deur my sport.”

O ja, Froning se CrossFit Mayhem Freedom-span het ook eerste in die Ope se spanafdeling klaargemaak.

  • Uitslae van CrossFit-ope (wêreldwyd):
  1. Jeffrey Adler (Kanada)
  2. Scott Panchik (VSA)
  3. Travis Mead (VSA)
  4. Saxon Panchik (VSA)
  5. Rich Froning (VSA)
  6. Noah Ohlsen (VSA)
  7. Samuel Cournoyer (Kanada)
  8. Cole Greashaber (VSA)
  9. Agustin Richelme (Argentinë)
  10. Oleg Lascenko (Brittanje)
  • Suid-Afrikaners:
  1. Kealan Henry
  2. Jason Smith
  3. Darren Zurnamer
  4. Barend Smit
  5. Richard Wollboldt
  6. Ruan Duvenage
  7. Justin Swart
  8. Damian Burns
  9. Richard Smith
  10. Trent Williams

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.