Fumic en Avancini verras met sege in eerste Epic-skof

Die wenners van die eerste skof van die cape Epic, Henrique Avancini en Manuel Fumic (Foto: Shaun Roy/Cape Epic/SPORtZPICS)

Die wenners van die eerste skof van die Cape Epic, Henrique Avancini en Manuel Fumic (Foto: Shaun Roy/Cape Epic/SPORtZPICS)

Manuel Fumic en Henrique Avancini (Cannondale Factory Racing XC) het Maandag ietwat verrassend die eerste skof van die Absa Cape Epic gewen.

Die Duits-Brasiliaanse span was  baas op die tweede dag van die meerdaagse bergfietstoer in Hermanus oor 101km. Fumic en Avancini het die dag as algehele voorlopers begin danksy hul sege Sondag in die proloog in 1:01:52.

Hulle het die eerste skof Maandag in die Hemel-en-Aarde-vallei buite Hermanus in 4:25:35 gewen. Hul algehele tyd na die tweede skof is nou 5:27:27 en hulle spring Dinsdag steeds as draers van die geeltrui weg.

Die Tsjeg Jaroslav Kulhavy en Christoph Sauser van Switserland (Investec-Songo-Specialized) was tweede in 4:26:29. Duitsers Jochen Kaess en Markus Kaufmann (Centurion Vaude) het die derde plek ingeneem (4:29:21).

“Dit was waarskynlik die skof wat ons die minste gepas het. Om dit te kon wen, is dus baie lekker,” het Avancini gesê.

Moeilikheid het vir die verdedigende kampioen Karl Platt op die Haarkappers-klim begin. Die oomblik toe Sauser bloed ruik het hy van die kans gebruik gemaak om die tempo te lig en het heelpad voorgery op die kronkelpad-klim.

Sauser en Kulhavy het in die laaste 30km baie aggressief gejaag in poging om van Nino Schurter-hulle ontslae te raak en dit was suksesvol toe Schurter se spanmaat Matthias Stirnemann nie Kulhavy-hulle se pas kon volhou nie.

Toe was daar net twee spanne: die draers van die geeltruie – Fumic en Avancini – en die aanspraakmakers – Kulhavy en Sauser. Dit was totdat Kulhavy se band-klep afgebreek het.

“Dit was ʼn taai skof. Daar was baie los sand wat dit erg stowwerig gemaak het. Ek en Susi het egter sterk gevoel. Ek weet nie hoe my band se klep afgebreek het nie … dalk ʼn draad gevang of iets. Dit was met sowat 10km oor in die skof en toe ons weer begin ry het ons alles gegee. Ons sou graag vandag wou wen. Daar is egter nog ses dae oor,” het Kulhavy gesê.

Wat die algehele stand betref, is Fumic-hulle nou met 2 minute 41 sekondes voor Sauser-hulle. Schurter en Stirnemann is derde algeheel. Platt en Urs Huber (Bulls) is sewende en byna nege minute agter.

♦  In die vroue-afdeling was dit die kombinasie van Jennie Stenerhag en Esther Suss wat die skof gewen het en nou die nuwe algehele voorlopers is. Suss en Stenerhag (Meerendal CBC) se wentyd was 5:10:04 en hul voorsprong oor Sabine Spitz en Robyn de Groot (Ascendis Health) is 8:52. Suid-Afrika se Mariske Strauss en Annie Last van Engeland (Hansgrohe Cadence OMX) is derde en 13 minute agter.

“Ons het op die Koningin van die Berg-klim weggekom en net die heelpad binne ons perke gery tot die einde. Ek is baie bly oor die skofsege en nog blyer dat ons nou die algehele voorlopers is. Ek gaan egter nie te opgewonde raak nie, want daar is nog ses dae oor,” het Stenerhag gesê.

♦  Dinsdag se tweede skof begin by Hoërskool Hermanus en eindig 102km (2350m) later by Elandskloof in Greyton. Aksie begin om 07:00 en die eerste jaers word om 11:22 by die eindpunt verwag.

♦  Vir regstreekse uitsending van die aksie besoek die amptelike webtuiste www.cape-epic.com.

Artikel verskaf deur Absa Cape Epic

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.