Gaan McGregor wéér terugkeer?

Conor McGregor se foto op Instagram. Foto: Instagram.

As mens ’n WhatsApp-ikon by ’n storie kon plaas, sou die mannetjie wat sy kop in frustrasie vashou nou heel gepas wees.

Want skaars ’n maand nadat Conor McGregor vir die hoeveelste keer sy uittrede uit Ultimate Fighting Championship-kragmetings aangekondig het, is daar sprake dat hy weer tot die sport kan terugkeer.

En waar daar selfs die kleinste rokie trek, is daar normaalweg ook iewers ’n vuurtjie wat brand.

“Hallo almal, ek het besluit om my uittrede aan te kondig,” het sy Twitter-boodskap verlede maand begin.

Die aankondiging het ondersteuners reg oor die wêreld laat kopkrap, want net vroeër vanjaar het hy nog vir Donald Cerrone binne slegs 40 sekondes met sy skouer katswink geslaan, terwyl hy binnekort teen Anderson Silva sou baklei het. Dan het daar ’n watertand-herontmoeting met Khabib Nurmagomedov ook op hom gewag.

“Dankie vir al die ongelooflike herinneringe en dit was ’n wonderlike tyd,” het hy verder gesê. Hy het ’n foto van homself en sy ma Margaret, ná een van sy kampioenskap-gevegte, by die inskrywing geplaas.

Maar die 31-jarige McGregor het vroeër die week ’n foto van homself op sy Instagram-profiel gelaai, waar hy aansienlik groter spiere as voorheen het.

Die inskrywing het sy afrigter, John Kavanagh, genoop om te sê dat McGregor in ’n swaarder gewigsklas sal moet deelneem as hy sou besluit om sy terugkeer te maak.

“Sommer reguit na die middelgewigsklas,” het Kavanagh op die inskrywing geantwoord.

McGregor het reeds geskiedenis gemaak deur die eerste gemengde gevegskuns-atleet te word om kampioenskapstitels in twee verskillende gewigsafdelings te wen.

’n Derde gewigsafdeling sal dus nie buite sy bereik wees as hy besluit om tot die sport terug te keer nie.

Hy het dit al immers vantevore gedoen.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.