Gaan ons vir ‘Fedal’ in 2022 sien?

Roger Federer en Rafael Nadal in aksie as dubbelspel-spanmaats. Foto: Twitter.

As enkelspel-spelers het Roger Federer en Rafael Nadal hul stempel reeds dubbel en dwars op die tenniswêreld afgedruk.

Al twee sterre is egter tans op die krukkelys: Die 40-jarige Federer het sy derde knieoperasie ondergaan, terwyl die 35-jarige Nadal met ’n voetbesering sukkel.

Maar met die opwinding van die afgelope Laver-beker – wat die Europese span met 14-1 gewen het – het die Spanjaard gedink dit is weer tyd om sy dubbelspel-skoene aan te trek.

“Dubbels volgende jaar?” het Nadal vir Federer op Instagram gevra.

Hoewel hy nie dadelik op die Spaanse matador se versoek gereageer het nie, het die Switserse meester intussen laat weet dat dit glad nie ’n slegte idee is nie.

“Dit sal ongelooflik wees om die ou Fedal weer in Londen te sien,” het Federer geskryf.

Die twee spelers het in 2017 kragte saamgesnoer toe die Europeërs met die louere in die 2017-weergawe van die Laver-beker weggestap het; om hulle weer saam op die tennisbaan in Engeland te sien, sal ongetwyfeld die kersie op die koek wees.

Rafael Nadal het die skare in Kaapstad vermaak. (Foto: AP /Halden Krog)

Wat enkelspel-wedstryde betref, is Nadal tans sesde ter wêreld, terwyl Federer negende op die internasionale punteleer is.

En hulle is nog so gewild soos altyd.

Die Fransman Richard Gasquet het onlangs gesê dat Federer die beste speler ooit is en dat hy “ongelooflik grasieuse” tennis speel.

“In my oë is iemand soos Roger Federer onvervangbaar; veral wat die estetiese waarde van sy spel betref. Dit is die hoofrede waarom ek tennis kyk,” het Gasquet gesê.

Dan het Novak Djokovic Nadal se lof besing nadat hy hom vroeër in die halfeindstryd van die Franse Ope uitgeskakel het.

“Elke keer wanneer jy teen Rafa speel, weet jy dat jy Everest sal moet uitklim om uiteindelik met die louere weg te stap. ’n Mens sukkel om woorde te vind om sy vertonings in Parys te beskryf.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.