Gaan ons vir Roger weer op Wimbledon sien?

Roger Federer groet die toeskouers ná gister se wedstryd. Foto: Glyn Kirk/AFP.

Skok en ongeloof.

Waarskynlik die twee emosies wat ondersteuners van Roger Federer ervaar het toe hy gister in die kwarteindstryd van Wimbledon deur Hubert Hurkacz uitgeskakel is.

Die eindtelling was 6-3, 7-6 en 6-0 in die Pool se guns en dit is veral die telling van daardie laaste stel wat ’n mens net weer opnuut laat besef dat die horlosie vir niemand stilstaan nie – selfs nie eens as jou naam Roger Federer is nie.

Ná sy knieoperasies kon ’n mens verstaan dat hy ’n paar wedstryde in die aanloop tot die toernooi verloor het en jy het selfs begrip gehad vir sy besluit om sy Franse Ope-veldtog kort te knip om eerder op Wimbledon te fokus.

Wimbledon is Federer se veilige vesting, ’n tennisheiligdom waar hy nie sommer verloor nie. Of hoe?

“My droom vir die afgelope jaar was om weer op Wimbledon te probeer speel. Ek het daardie doelwit bereik en dit is iets waarop ek baie trots is,” het die 39-jarige Federer ná afloop van die wedstryd gesê.

“Maar om eerlik te wees, ek weet nie of dit my laaste Wimbledon was nie. Hubert het goeie tennis gespeel en veral in die laaste stel het ek nie geweet of ek my pad weer sal kan oopveg nie. Ek is nie gewoond aan só ’n situasie nie. En veral nie op Wimbledon nie.”

Tog is daar nog geen sprake van uittrede nie.

Van sy hoogtepunte op Wimbledon. Foto: AFP.

“Nee, ’n mens moet net alles in perspektief plaas. Jy het ’n doelwit nodig wanneer jy met jou rehabilitasieproses besig is. Jy dink nie aan die berg wat voor jou lê nie, maar probeer eerder om ’n tree in die regte rigting te gee.”

Volgens Federer kan hy nie meer dinge as vanselfsprekend op ’n tennisbaan aanvaar nie; hy is nie meer die speler van tien jaar gelede nie.

“Ek moet ongetwyfeld harder in wedstryde werk. Ek het baie idees op die baan, maar ek kan nie altyd meer doen wat ek wil nie.”

Die Switserse tennislegende is staande toegejuig toe hy van die baan stap. Selfs al was dit sy laaste wedstryd op sy geliefde Wimbledon, sal niemand sy heldedade daar sommer vergeet nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

piet ·

Hy het steeds die kwarteindronde gehaal, sy spel kan nie te vrot tans wees nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.