Elke mens se sportpaadjie is anders. Johanni Taljaard se pad na medaljes op die internasionale verhoog het by gimnastiek begin en ’n belangrike afdraaipad na CrossFit geneem – ’n sport wat haar uiteindelik aan gewigoptel blootgestel het.
Vandag spog Taljaard, ’n atleet van skaars 59 kg, nie net met die Afrikatitel nie, maar ook met ’n silwermedalje wat sy vroeër vandeesmaand tydens die Statebond-gewigoptelkampioenskap in Samoa gewen het.
Haar gewigoptelgetuigskrif sorg vir indrukwekkende leesstof: sy het al 87 kg met ’n snatch-beweging bo haar kop gelig, terwyl sy 102 kg met ’n clean & jerk-beweging opgetel het.
’n Duidelike bewys dat klein botteltjies inderdaad vir groot (en in dié geval swaar) gif kan sorg.
“Ek het gimnastiek op skool en universiteit gedoen, waarna ek in 2013 met CrossFit begin het,” het sy aan Maroela Media gesê.
Gedurende haar CrossFit-loopbaan was sy die beste vroue-atleet in Suid-Afrika (2016) en selfs die tegniese bewegings was vir haar maklik.
“Die gimnastiek-bewegings, soos om op jou hande te loop en optrekke, was vir my die lekkerste. Die feit dat ek ’n redelike klein atleet is, het my ook hiermee gehelp omdat dit suiwer op jou eie liggaamsgewig fokus.”
“Dan was ek van die begin af ook mal oor die gewigoptel-bewegings van CrossFit, juis omdat dit so tegnies is. Hoe meer tegnies die beweging, hoe meer het ek dit geniet.”
Hoewel sy goed in gewigoptel-oefensessies by CrossFit-kompetisies gevaar het, het sy nooit besef waartoe sy in staat is nie; juis omdat daar geen gewigskategorieë in CrossFit is nie en sy teen groter atlete moes deelneem.
Maar teen die einde van 2016 het sy vir Petar Kartev – ’n gewigoptel-afrigter van Bulgarye – genader en dié Oos-Europeër het onmiddellik haar talent raakgesien. Sy het in 2018 CrossFit vaarwel toegeroep om uitsluitlik op gewigoptel te fokus; ’n besluit wat sy glad nie berou nie.
Sy is gekies vir die Suid-Afrikaanse span wat Augustus die land by die Afrikaspele in Marokko gaan verteenwoordig en sy droom daarvan om vir die 2020- Olimpiese Spele in Tokio te kwalifiseer.
Om dié droom te verwesenlik, oefen die Stellebosse biokinetikus ses dae per week en soms tot twee keer per dag.
“Ek sou graag meer wou oefen, maar daar is nie altyd finansiering vir my sportsoort in Suid-Afrika nie, dus moet ek steeds werk. Ek werk vanaf die huis en daarom het ek my motorhuis in ’n gimnasium omskep sodat alles sommer gerieflik op een perseel is. Op Dinsdae en Saterdae oefen ek egter saam met my afrigter in Vishoek.”
Sy het seker al die ysterstaaf ’n hele paar duisend keer bo haar kop gelig, maar tog bieg sy dat die senuwees steeds voor én gedurende ’n kompetisie knaag.
“Ja, ek is vreeslik op my senuwees voor ek deelneem,” sê sy laggend.
“My maag draai en ek verloor heeltemal my eetlus. Ek het intussen aangeleer dat hierdie fisieke simptome van senuweeagtigheid nie my vertonings belemmer nie en dat dit nie beteken dat ek in myself twyfel nie. Ek het die afgelope ruk baie aan my geestelike voorbereiding ook geskaaf.”
Sy was reeds eerste in Afrika en tweede by die Statebond-kampioenskap. Nou wag die Olimpiese Spele vir Johanni Taljaard.
- Moet egter nie dink dat gewigoptel net van suiwer fisieke krag afhang nie, goeie tegniek is ook ongelooflik belangrik.
- Hoewel Taljaard 87 kg met die snatch-beweging bo haar kop opgetel het, was dit gedurende ’n oefensessie. Haar kompetisiegewig van 83 kg is ’n nasionale rekord, asook die 102 kg wat sy in die clean & jerk-kategorie opgetel het.
- Sy bedank graag vir Spescare en FinVice vir hul finansiële hulp.
Respek!