Geruite vlag so amper weer vir Alonso geswaai

Fernando Alonso. (AP Photo/Bernat Armangue)

Gister in Saoedi-Arabië het die geruite vlag so byna weer vir Spanje se Fernando Alonso gewaai. Die 38-jarige voormalige Formule Een-wêreldkampioen het tweede by die agtste skof van die moordende Dakar-wedren klaargemaak.

Frankryk se amateur-deelnemer, Mathieu Serradori, het die skof gewen. Maar in ’n wêreld waar gewildheid en nuus die hoogty vier, het Alonso vir die hoofopskrifte gesorg.

“Dit was net doodeenvoudig ongelooflik gewees,” het Alonso gesê.

“Om te dink dat ek ’n paar maande gelede nog nooit eens my voet in só ’n voertuig gesit het nie en deesdae wedywer ons saam met die ervare deelnemers. Ons wiel het wel een keer probleme gegee en ons het beslis momentum verloor, maar andersins was die skof so te sê perfek. Marc (Coma, die navigator) was briljant gewees en het ons met gemak tussendeur én oor al die duine gelei.”

Suid-Afrika se Giniel de Villiers het vierde geëindig, terwyl sy Toyota-spanmaat en die verdedigende kampioen, Nasser al-Attiyah, elfde by die eindpunt was nadat hy in die duine gesukkel het.

Carlos Sainz se algehele voorsprong het egter ook gekrimp – hy is nou net ’n rapsie meer as ses minute vinniger as Al-Attiyah.

Dan is gister se skof vir die motorfiets- en vierwielmotorfietsdeelnemers gekanselleer ná die dood van die motorfietsryer, Paulo Gonçalves.

Die 40-jarige Gonçalves het Sondag halfpad deur sneltrajek 7 geval en is noodlottig beseer. Toby Price van Australië en Argentinië se Kevin Benavides het albei stilgehou om te help.

Volgens die organiseerders het ʼn lugambulans sowat agt minute later op die toneel geland. Gonçalves is na die nabygeleë Layla-hospitaal vervoer waar hy met sy aankoms dood verklaar is.

  • Jeanette Kok-Kritzinger van Wiele2Wiele en Stephie Vetter van die Southern Africa Dakar Group hou ons op die hoogte van wat by die Dakar-wedren gebeur en hoe dit met deelnemers van Suider-Afrika gaan. Luister na die klankinsetsel boaan die berig.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.