Geruite vlag swaai weer vir vlieënde Max

Max Verstappen vier nóg ’n F1-oorwinning. (Foto: Guiseppe Cacace/AFP)

Max Verstappen het in die tweede ronde van die jongste Grand Prix-seisoen maar net weer Max Verstappen-dinge gedoen en ʼn wedren weereens op ʼn drafstap gewen.

Die verdedigende kampioen het amper 14 sekondes vóór spanmaat Sergio Perez oor die wenstreep in Saoedi-Arabië gejaag en hy spog klaar met ʼn gemaklike voorsprong op die jaerspunteleer, terwyl Red Bull ongetwyfeld oor die kragtigste vuurwa beskik.

“In die geheel was dit ʼn fantastiese naweek vir die hele span. Persoonlik het ek baie goed agter die stuur van my renmotor gevoel,” het Verstappen ná afloop van die wedren gesê.

“Toegegee, die veiligheidsmotor het dinge so ʼn bietjie meer ingewikkeld gemaak – veral as ʼn mens van bandestrategie, ensovoorts praat – maar ons het dinge mooi onder beheer gehad. Ek is baie tevrede met hoe sake verloop het.”

Benewens die vlieënde Nederlander se sukses, verdien die jong Ferrari-renjaer Oliver Bearman ook ʼn groot klop op die skouer.

Die 18-jarige Brit moes op die laaste nippertjie sy valhelm nadertrek toe hy hoor dat hy vir die olike Carlos Sainz moet instaan.

Hy het hom egter uitstekend van sy taak gekwyt en hy het die wedren in die sewende plek voltooi.

Bearman het aanvanklik die pap dik aangemaak toe hy vir Yuki Tsunoda en Nico Hulkenberg verbygesteek het, waarna hy later sy posisie op die renbaan goed teen Lewis Hamilton en Lando Norris verdedig het.

“Goeiste, fisiek was dit ʼn baie moeilike wedren gewees; veral teen die einde toe twee ouens my op sagter bande gejaag het. Ek moes omtrent vir jou uithaal en wys! Dit was beslis ʼn uitdaging, maar ek het dit ook baie geniet,” het hy gesê.

Die volgende wedren word op 24 Maart in Australië beslis.

Uitslae:

  1. Max Verstappen (Red Bull)
  2. Sergio Perez (Red Bull)
  3. Charles Leclerc (Ferrari)
  4. Oscar Piastri (McLaren)
  5. Fernando Alonso (Aston Martin)
  6. George Russell (Mercedes)
  7. Oliver Bearman (Ferrari)
  8. Lando Norris (McLaren)
  9. Lewis Hamilton (Mercedes)
  10. Nico Hulkenberg (Haas)

Jaerspunteleer:

  1. Max Verstappen: 51 punte
  2. Sergio Perez: 36 punte
  3. Charles Leclerc: 28 punte
  4. George Russell: 18 punte
  5. Oscar Piastri: 16 punte
  6. Carlos Sainz: 15 punte
  7. Fernando Alonso: 12 punte
  8. Lando Norris: 12 punte
  9. Lewis Hamilton: 8 punte
  10. Oliver Bearman: 6 punte

Vervaardigerspunteleer:

  1. Red Bull: 87 punte
  2. Ferrari: 49 punte
  3. McLaren: 28 punte
  4. Mercedes: 26 punte
  5. Aston Martin: 13 punte.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.