Geskiedenisboeke word by Aussie Ope herskryf

Naomi Osaka van Japan met die Daphne Akhurst-trofee by Melbourne se Brighton Beach (27 Januarie 2019) (AP Photo/Kin Cheung)

Een van Alphaville se grootste treffers is die liedjie Big in Japan wat hulle reeds in 1984 geskryf het. Druk nou die versnelknoppie na 2019 en jy besef eintlik nou eers die lirieke gaan oor Naomi Osaka.

Die 21-jarige Japannese ster het gister die geskiedenisboeke herskryf toe sy vir Petra Kvitova getroef het om haar eerste Australiese Ope-titel in te palm. In die proses het sy nie nét die jongste speler sedert Martina Hingis in 1998 geword om twee agtereenvolgede Grand Slams (sy was ook baas in die Amerikaanse Ope) te verower nie, sy is ook die wêreld se nuutste nommereenspeler.

O ja, sy is ook die jongste wêreldnommereen sedert Caroline Wozniacki bo-aan die ranglys in 2010 was.

Sy het egter byna gister se eindstryd weggegooi toe sy ’n voorsprong van 5-3 in die tweede stel deur haar vingers laat glip het – Kvitova het goed teruggeveg om dié stel 7-5 te beklink.

“Ek het myself probeer moed inpraat – daar was immers niks wat ek meer aan die tweede stel kon doen nie. Ek speel in die eindstryd en moet aanhou veg.”

Sy het die derde en beslissende stel gewen om 7-6, 5-7, 6-4 met die Melbourne-louere weg te stap.

Intussen sal Rafael Nadal en Novak Djokovic later vanoggend mekaar in ’n watertandherontmoeting van die 2012-eindstryd – wat wyd en syd as een van die beste wedstryde nóg beskryf word – pak.

Indien Djokovic wen, sal dit sy sewende Aussie-titel wees, terwyl ’n Nadal-oowinning óók die geskiedenisboeke sal herskryf. Die 32-jarige Spanjaard sal dan die eerste speler in die moderne era wees wat al vier Grand Slams vir ’n tweede keer wen. Die eindstryd slaan om 10:30 af en word op SuperSport uitgesaai.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Paul ·

Genadiglik, genadiglik, kan ons ‘n nuwe ster volg en die era van Serena groet. Ek verseker is nie hartseer nie.

Chris ·

En daar slaan The Djoker vir Nadal flenters, ek wonder wat het Nadal se petrol laat opraak, dalk is die medikasie wat hy vir sy knieë neem nou ook uit die liggaam.

Frans C ·

Dat die man (Nadal) na 15 jaar en talle operasies nog steeds die eindstryd kan haal spreek boekdele vir sy vermoëns.Novak Djokovic was net eenvoudig te goed vir hom en Nadal kon nie Djokovic se spel baasraak nie en het moeg en afgemat voor gekom.

Chris ·

Frans, dit spreek boekdele van die medikasie wat hy neem en die gimnasium waarin hy oefen om spiere te bou. Onder normale omstandighede sou hulle hom geskors het, maar in sy geval het hulle die opkikker goedgekeur omdat dit nou vir hom as medikasie beskou word.

Chris ·

Frans, en Nadal het almal tot op daardie stadium, ook vir Tjsitsipas, ‘n tennisles gegee, hy het die minste tyd op die baan spandeer, so liggaamlik moes hy in ‘n puik kondisie gewees het, maar selfs die sportskrywers het soos een man na die wedstryd teen The Djoker gesê die was die eensydigste wedstryd sedert Scheuttler destyds oor Aggasi geloop het. Dit was maar ‘n teleurstelling.

Paul ·

So is die gras op Wimbledon ‘n klomp jaar gelede met nuwe gras oorgeplant wat die speeloppervlak stadiger gemaak het, eintlik om Nadal te pas, en daar benadeel hulle toe vir Federer. Dink nou net as medikasie nie in spel vir Nadal gekom het om hom kompiterend te hou en Wimbledon se gras se speeloppervlak nie aan gepeuter was nie, waar sou Federer se rekord nie vandag gestaan het nie.

Sammy Swiegers ·

Het Petra Kvitova ‘n senuweeineenstorting beleef gedurende wedstryd en toe die skeidsregter daarvoor blameer?

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.