Gesonde Uleen deel fiksheidsraad, resepte

Uleen Fourie. Foto: Verskaf.

In ’n wêreld wat tans op sy kop gedraai is, speel individue soos Uleen Fourie ’n baie belangrike rol: Hulle wys dat daar tussendeur al die negatiewe dinge darem nog lekkerleesstories is; dat daar steeds mense is wat vir hoop sorg.

Die 24-jarige, ’n gesondheidsghoeroe en ambassadeur vir Burnt Fit, vertel dat haar fiksheidsreis reeds op skool in die Kaap begin het – sy het onder meer provinsiale kleure vir swem en tennis verwerf, terwyl sy ook op nasionale vlak erkenning vir haar netbalvernuf gekry het.

Sport en oefening was dus nog altyd onlosmaaklik deel van haar lewe; maar kos was egter ’n spyskaart van ’n gans ander kleur.

“Vandat ek kan onthou het ek ’n slegte verhouding met kos gehad. Ek het van jongs af kitsdiëte gevolg wat korttermynoplossings gebied het, maar nooit volhoubaar was nie,” het sy aan Maroela Media gesê.

Soos wat die boeke- en lewenskennis egter meer geword het, het sy tot die gevolgtrekking gekom dat ’n gesonde leefstyl baie meer voordele as enige dieet inhou.

“Die beste eetplan is een wat by jou leefstyl pas en wat volhoubaar is; g’n mens kan vir die res van sy lewe ’n dieet volg nie!”

Foto: Verskaf.

Volgens Fourie het sy al talle vroue gesien wie se gewig soos ’n klimtol op en af fluktueer. Waarom? Want ’n dieet is ’n streng program wat jy vir ’n sekere tyd volg en waar jy sekere kossoorte uitsny in ’n poging om gewig te verloor.

“Dit is waaroor my e-boeke gaan, om vir vrouens die basiese beginsels van kos te leer. Almal se leefstyl, inkomste, werk en tyd verskil. Jy moet dus jou eetplan daarvolgens aanpas. ’n Kitsdieet werk nie vir almal nie en elkeen se liggaam sal anders daarop reageer.”

En sy het goeie nuus vir die van ons wie se moed in ons skoene sak wanneer ons op die skaal klim: Daar is soveel ander faktore wat mens se geluk kan bepaal.

“Dit is so maklik om jou geluk met ’n paar syfertjies op die skaal te probeer vind. Ek probeer dus eerder om op ander aspekte te konsentreer waar ek verandering kan sien: Ek probeer byvoorbeeld om hierdie week drie liter water te drink, of om beter te oefen. Skuif jou aandag na ander faktore en die syfertjies op die skaal sal wel laer word.”

Sy oefen vir ’n uur per dag – die ure se fietstrap- en trapmeulsessies is iets van die verlede.

“My manier van oefen het baie oor die afgelope twee jaar verander – van net kardiowerk tot gewigte. ” Daar is ’n wanpersepsie oor vrouens wat met gewigte oefen, maar dit is een van die beste besluite wat sy nog geneem het.

So gepraat van goeie besluite, Fourie is onlangs getroud en sy vertel dat die trotsste oomblik van haar lewe is.

“Ek lê baie klem daarop dat jou lyf nie jou lewe is nie. Dit is net so belangrik dat al die ander aspekte van jou lewe ook gebalanseerd en gesond is. ’n Gelukkige en gesonde verhouding is iets waaroor ek elke dag dankbaar en trots op is.”

Nodeloos om te sê: sy het ook ’n gesonde resep wat sy graag deel.

Foto: Verskaf.

Wortelkoek-hawermout:

  • 40‑60 gram hawermout
  • Een skeppie vanielje-proteïenpoeier
  • Twee gerasperde wortels
  • Een teelepel kaneel
  • Een teelepel gemengde speserye
  • Twee tot drie eierwitte

Kook die hawermout totdat dit amper gaar is, voeg die eierwitte by en roer vir ongeveer 30 sekondes. Haal dit van die plaat af en voeg die res van die bestanddele by.

 

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae