Gewilde Zverev nog nie op sy beste

Alexander Zverev is deur na die vierde ronde van die Australiese Ope. Foto: Twitter.

Hoewel Alexander Zverev vandag glad nie op sy beste in Melbourne vertoon het nie, het hy steeds genoeg gedoen om Radu Albot met 6-3, 6-4 en 6-4 te klop.

Sodoende het die derde gekeurde Duitser sy plek in die vierde ronde van die Australiese Ope bespreek.

Zverev het weliswaar 16 kishoue afgevuur, maar hy het eintlik met sy afslane gesukkel.

Hy het 16 dubbelfoute gemaak, terwyl sommige van sy pogings skaars die 130 km/h-kerf gehaal het; vir iemand wat kartetse van 200 km/h kan afvuur, is dit taamlik stadig.

“Ek het met tye vandag gesukkel en dinge was glad nie perfek nie, maar ek het gewen en ek is tevrede daaroor,” het Zverev ná afloop van die wedstryd gesê.

Anders as Daniil Medvedev wat gister ’n onstuimige verhouding met die ondersteuners gehad het, is die 24-jarige gewild onder die plaaslike toeskouers.

“Ek het nog nooit ’n wedstryd hier [op die John Cain-baan] verloor nie en dit is lekker om voor al die toeskouers te speel. Hul ondersteuning is altyd ongelooflik.”

Hy sal in die vierde ronde teen Kanada se Denis Shapovalov in die twee se eerste Grand Slam-ontmoeting te staan kom.

Shapovalov het vroeër vandag in vier stelle met die VSA se Reilly Opelka afgereken.

Twee van die toernooi se gunstelinge – Rafael Nadal en Ashleigh Barty – is ook later vandag in aksie.

Die Spanjaard sal teen Karen Khachanov op die Rod Laver-baan kragte meet, terwyl Barty ongetwyfeld die tuisskare se ondersteuning teen Camilia Giorgi sal geniet.

Uitslae: 

Victoria Azarenka (24) klop Elina Svitolina met 6-0 en 6-2.

Barbara Krejcikova (4) klop Jelena Ostapenko met 2-6, 6-4 en 6-4.

Paulo Badosa (8) klop Marta Kostyuk met 2-6, 7-5 en 6-4.

Denis Shapovalov (14) klop Reilly Opelka (23) met 7-6, 4-6, 6-3 en 6-4.

Matteo Berrettini (7) klop Carlos Alcaraz (31) met 6-2, 7-6, 4-6, 2-6 en 7-6.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.