Gholf: Bezuidenhout sukkel; Burmester dra vaandel

Christiaan Bezuidenhout (Foto: YOSHI IWAMOTO/AFP)

Suid-Afrika se Christiaan Bezuidenhout het Vrydag in Dubai sy kanse verspeel om ná die tweede ronde van die DP World Tour-gholfkampioenskap tussen die voorlopers te eindig nadat hy 75 houe in die tweede ronde aangeteken het.

Bezuidenhout, wat 67 houe, waaronder vyf voëltjies, in Donderdag se eerste ronde aangeteken het, het Vrydag klei getrap en 75 houe, drie houe meer as baansyfer, in die tweede ronde op die Jumeirah Beach-baan aangeteken.

Hy kon net een voëltjie aanteken en het op vier putjies houe aan baansyfer afgestaan.

Bezuidenhout het op 142 houe geëindig en is saam met nog ʼn Suid-Afrikaner, Garrick Higgo, en ʼn rits ander spelers in die gesamentlike 31ste posisie.

Die Ier Shane Lowry is saam met die Amerikaner John Catlin en die Engelsman Sam Horsfield voor op 134 houe (-10).

Hulle word deur Rory McIlroy van Noord-Ierland en Alexander Björk van Swede op 135 houe gevolg.

Die Amerikaner Collin Morikawa en Martin Kaymer van Duitsland is albei op 136 (-7).

Dean Burmester (Foto: Ben Stansall/ AFP)

Dean Burmester van Bloemfontein het die beste van die Suid-Afrikaners gevaar en is op 138 houe binne trefafstand. Burmester was baie bestendig en het tellings van 69 en 69 houe in die eerste twee rondes aangeteken.

Justin Harding is op 143 houe waarskynlik uit die wedloop in dié glansryke toernooi in die Europese reeks.

* In die RSM Classic-toernooi, wat deel van die Amerikaanse PGA‑reeks is en by Sea Island in Florida beslis word, loop die Amerikaner Talor Gooch op 129 houe (-13) voor, een hou voor die Colombiaan Sebastian Munoz en John Huh, ook van Amerika.

Taylor Moore (Amerika) en Mackenzie Hughes (Kanada) is op 131 stewig in die wedloop.

Dawie van der Walt (146) en Dylan Frittelli (149 na 80 houe in die tweede ronde) kon nie die wind baasraak nie en kon nie die afsnypunt haal nie.

Louis Oosthuizen het hom ná die eerste ronde onttrek.

* In die CME-toernooi vir vroue wat by Tiburon in Florida gespeel word, loop Celine Boutier van Frankryk op 130 houe (-10) met vier houe voor.

Die toernooi, wat die laaste toernooi in die LPGA-reeks vir vroue is, sal die voorste speler op die wêreldranglys bepaal.

Boutier word gevolg deur die Amerikaner Mina Harigae, Min-Jin Lee van Australië en Gaby Lopez van Mexiko, wat al drie op 134 houe geëindig het.

Nelly Korda van die VSA (135) is stewig in die prentjie om as die wêreld se beste vrouespeler gekroon te word.

Nie een Suid-Afrikaner speel in die toernooi waarin die voorste 60 spelers speel nie.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.