Gimnasiums kan weer gewig(te) rondgooi

gimnasium-gewigte-tekkies-oefen

Foto: Victor Freitas/Pexels.com

Volgens vlak 2 se regulasies mag gimnasiums vandag onder sekere voorwaardes hul deure heropen. Verskeie fiksheidslawe het waarskynlik reeds verlede week al hul proteïen-skommels sommer so saam met ’n paar rou eierwitte weggesluk ter voorbereiding vir die groot dag.

Vir talle gimnasiumeienaars en -werknemers is dié aankondiging ’n welkome reddingsboei vir ’n bedryf wat tydens die afsonderingstydperk amper op sy knieë gedwing is. Volgens mediaberigte vroeër vanjaar kon soveel 80% van alle gimnasiums in Suid-Afrika hul deure permanent gesluit het indien hulle langer toegebly het.

Laurene Wolfaardt, eienaar van Swurve Fitness in Pretoria, het in ’n onderhoud met Maroela Media gesê dat geen finansiële voordeel aan die gimnasium gebied is terwyl hul deure noodgedwonge gesluit was nie.

“Die grootste uitdaging is om toe te kyk hoe ’n besigheid waaraan jy so hard gewerk het ten gronde gaan,” het sy destyds gesê.

Groot gimnasiumkettings soos Virgin Active en Planet Fitness het egter aangedui dat hulle nie vandag hul deure sal oopmaak nie.

“Hoewel ons nie vandag heropen nie, is die wag amper verby. Ons spanne is hard aan die werk om die klubs gereed te kry vir ’n veilige terugkeer. Ons sal binnekort ons openingsdatum aankondig,” het Planet Fitness op Twitter gesê.

Virgin Active het op sy beurt in ’n verklaring gesê dat sy Covid-19-planne eers aan die regering voorgelê moet word voordat dié gim kan heropen. Hierdie proses sal ongeveer ʼn week duur.

Maar vir eienaars van onafhanklike gimnasiums soos AJ Visser is die aankondiging soos manna uit die hemel.

Suid-Afrika se AJ Visser. Foto: Verskaf.

Visser is een van Suid-Afrika se voorste CrossFit-atlete. Hy het verlede jaar ’n skitterende elfde plek tydens die Fittest in Cape Town-kompetisie losgeslaan. Ervare atlete soos Streat Hoerner, Cole Sager en Jason Smith was hier in aksie.

Hy is die eienaar van Vibe Functional Fitness in Brackenfell.

“Die afgelope paar maande was finansieel vir ons ongelooflik moeilik. Alle personeel se salarisse is verminder en ons moes noodgedwonge sluit,” het Visser gesê.

“Daar was tye waar ek gesprekke met die personeel gehad het oor dinge waaroor geen besigheidseienaar ooit sal wou praat nie. Die kans dat ons nooit weer ons deure sou oopmaak nie, het soos ’n werklikheid begin lyk, maar ons het geweet ons sal hierdeur kom.”

Aanlyn klasse is aangebied en inspirerende boodskappe is op sosiale media rondgestuur, maar dit is vir baie nie dieselfde as om in die gimnasium te sweet nie.

“Die feit dat ons nou mag heropen, beteken dat my droom kan voortgaan. Ons kry nou weer die geleentheid om mense se lewens te verander en dít is wat saak maak.”

Natuurlik is daar ’n rits gesondheidsregulasies wat gevolg moet word, maar Visser gee met ’n glimlag daaraan gehoor.

“Ons is ’n private gimnasium en maak nog altyd van ’n aanlyn besprekingstelsel gebruik. Daar sal egter nou net 14 lede per sessie toegelaat word en hulle sal in hul eie afgemerkte oefenhoekie moet sweet.”

Elke blok laat genoeg ruimte toe om doeltreffend te oefen, terwyl handreinigerstasies oral beskikbaar sal wees.

Daar sal persone wees wat huiwerig sal wees om in die Covid-19-era te kom oefen. En volgens Visser is dit iets wat te verstane is.

“Ons tref egter elke voorsorgmaatreël wat ons kan. Ons lede is ons familie en hulle is ons hoofprioriteit. Dit kan veiliger wees om te oefen as om kruideniersware te gaan koop,” het hy sy lede gerusgestel.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae