Gits Fritz, maar dié drie is goed!

Carlos Alcaraz spog met die silwerware in Buenos Aires. Foto: Luis Robayo/AFP.

ʼn Paar ATP-toernooie het gister tot ʼn einde gekom en Carlos Alcaraz het saam met Daniil Medvedev en Taylor Fritz die onderskeie silwerware omhoog gehou.

Alcaraz té sterk vir Norrie in Buenos Aires

Vóór die afgelope week se aksie in Buenos Aires was Alcaraz ongeveer drie maande laas op die baan nadat hy ʼn maagspierbesering in die Parys-meesterstoernooi opgedoen het.

Gister het die wêreld se naasbeste speler egter korte mette met Cameron Norrie in die eindstryd van die Argentynse Ope gemaak om die kragmeting met 6-3 en 7-5 te beklink. Dit was nie net sy sewende ATP-titel nie, maar ook sy eerste groot toernooi-oorwinning sedert hy verlede jaar met die Amerikaanse Ope-louere weggestap het.

“Ek het geweet dit sal moeilik wees om teen Cameron te speel. Ek was egter reeds van die eerste pot 100% gefokus en ek het veral aandag aan my intensiteitsvlakke gegee. Hierdie is ongetwyfeld die tipe tennis wat ek in eindstryde sal moet opdis,” het Alcaraz gesê.

Medvedev is baas in Rotterdam

In Rotterdam moes Daniil Medvedev ʼn agterstand uitwis om Jannik Sinner met 5-7, 6-2 en 6-2 in die eindstryd van die ABN AMRO-ope te klop.

“Ek dink dit was geestelik ʼn taai wedstryd vir ons al twee. Jannik het veral in die eerste stel die septer gewaai, maar ek kon my pad weer oopveg; selfs al het ek met tye slegter as hy gespeel,” het die Russiese speler gesê.

Dit was sy 16de ATP-oorwinning en hy sal binnekort weer sy verskyning onder die tien voorste tennisspelers op die amptelike ranglys maak.

Fritz wen in Florida

Dan het Taylor Fritz die Delray Beach-ope in Florida gewen toe hy met Miomir Kecmanovic in die eindstryd afgereken het. Die eindtelling was 6-0, 5-7 en 6-2 in die Amerikaner se guns.

Die 25-jarige Kalifornië-boorling het in 2020 laas in Delray Beach afgeslaan en hy is trots op sy vertoning.

“Dit was ʼn ongelooflike toernooi en veral die toeskouers het hul deel gedoen. Die atmosfeer was elektries en dit maak my trots om ʼn Amerikaner te wees,” het Fritz gesê.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.