Suid-Afrika se bobaas-verdediger op die netbalbaan, Karla Pretorius, is as die Sunshine Coast Lightning se kaptein vir die komende seisoen aangewys.
Die Australiese nasionale speler, Steph Wood, is die span se onderkaptein.
“Karla en Steph se bydrae tot die span is van onskatbare waarde. Hulle lei deur ’n voorbeeld op die baan te stel, terwyl hulle ook ’n spankultuur van inklusiwiteit aanmoedig,” het die Lightning-afrigter, Kylee Byrne, gesê.
Die 31-jarige Pretorius is een van wêreldnetbal se supersterre.
Sy is verlede jaar vir die derde agtereenvolgende keer as die Aussie-span se speler van die jaar aangewys, terwyl sy ook amok op die internasionale verhoog maak.
Die oudleerder van Hoërskool Zwartkop in Pretoria is tydens die Wêreldbeker-netbalskouspel in Liverpool as die speler van die toernooi aangewys.
“Dit is die span se spel wat my geïnspireer het om my beste te lewer en ek is baie dankbaar vir die erkenning wat ek gekry het – dit is inderdaad ’n baie spesiale toekenning. Dit wys jou net dat Suid-Afrika oor die spelers, talent en vaardighede beskik om die beste in die wêreld aan te vat,” het Pretorius destyds gesê.
En Byrne is ewe trots op haar goue Suid-Afrikaner.
“As speler het Karla ’n uitstekende paar jaar agter die blad, maar ek het terselfdertyd ook gesien hoe sy as leier ontwikkel. Almal respekteer haar en sy verdien ongetwyfeld die kapteinskap.”
BREAKING: Your 2021 Captains ????
Hear from your Captain Karla Pretorius and Vice Captain Steph Wood: https://t.co/FV03tvEg2o#TogetherWeStrike #netball @SuperNetball @karlamostert @Netball_SA pic.twitter.com/lXTGeQ2jMY
— Sunshine Coast Lightning (@sc_lightning) April 22, 2021
Pragtig om te sien hoe ons sport mense oorsee uitblink.
Ja met hulle twee kan ‘n mens ‘n leeu trop aanvat.
Pragtig! Hoerskool Zwartkop bo!