Griekse held baas in tennisdrama

Stefanos Tsitsipas vier sy oorwinning in Barcelona. (Foto: X/Barcelona-ope)

Stefanos Tsitsipas en Facundo Diaz Acosta was die hoofspelers in ʼn tennisdrama in Barcelona. En nadat hy diep moes delf om twee wedstrydpunte te beredder, het die Griek met die louere weggestap.

Tsitsipas het die kleibaankwarteindstryd in die Spaanse stad uiteindelik met 4-6, 6-3 en 7-6 gewen.

“Dit het met tye gevoel of ek ʼn berg moes uitklim om die wedstryd te wen. Dit was moeilik. Dit was ʼn uitdaging om topgehalte spel vir die hele kragmeting op te dis en ek moes omtrent uithaal en wys,” het Tsitsipas gesê.

Volgens die wenner van die Monte Carlo-ope is Diaz Acosta ʼn baie goeie kleibaanspeler.

“Gelukkig het ek al baie tenniswedstryde agter die blad en ek was al vantevore in soortgelyke situasies. Ek weet dat enigiets op die baan moontlik is.”

Dit was die Griekse speler se negende oorwinning van die kleibaanseisoen, terwyl hy nog nie een keer aan die verloorkant was nie.

“Op klei kan jy egter niks as vanselfsprekend aanvaar nie en jy moet hard werk vir elke liewe punt. Daarbenewens het Facundo die bal uitstekend teruggeslaan.”

Tsitsipas speel vandag in een van die halfeindstryde teen Dusan Lajovic.

Tsitsipas speel tans in een van die halfeindstryde van die Barcelona-ope teen Dusan Lajovic.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.