Grigor se droomlopie duur voort

Grigor Dimitrov is deur na die eindstryd van die Miami-ope. (Foto: Elsa/Getty Images via AFP)

Grigor Dimitrov geniet beslis ʼn droomlopie in Miami. Die Bulgaarse speler het eers met Carlos Alcaraz in die kwarteindstryd afgereken, waarna hy vir Alexander Zverev in die halfeindstryd met 6-4, 6-7 en 6-4 geklop het.

Volgende wag Jannik Sinner vir hom in die eindstryd van die Miami-ope.

O ja, hy tel ook vir die eerste keer in meer as 250 weke onder die tien voorste spelers op die amptelike ATP-ranglys.

“Ek hardloop deesdae my eie loopbaanwedloop. Daar het baie dinge agter die skerms gebeur; baie harde werk. Ek het heeltyd in myself geglo en my beste gegee. Hierdie jongste vertonings is bloot die kersie op die koek,” het Dimitrov gesê.

Hy erken egter dat dit nie maklik was om Zverev ore aan te sit nie.

“Nie een speler het vir die ander teruggestaan nie en ná die eerste stel het Alexander beter begin speel. Hy was op ʼn ander vlak in die tweede stel en die valbylpot; ek was onder kwaai druk gewees.

“In die beslissende stel het hy ʼn kans gehad om die voortou te neem, maar ek het goed afgeslaan en my houe gespeel. Op die ou einde het ek my stempel beter op die kragmeting afgedruk en ek kon die spel dikteer.”

In die ander halfeindstryd het Sinner op ʼn drafstap met Daniil Medvedev klaargespeel. Die eindtelling was 6-1 en 6-2 in die guns van die Australiese Ope-kampioen.

“Ek was op my gemak en het baie goed op die baan gevoel. In die geheel is ek baie tevrede met my vertoning,” het Sinner gesê.

Dit sal Sondag die jong Italianer se derde verskyning in die eindstryd van die Miami-ope wees.

Uitslae:

Grigor Dimitrov klop Alexander Zverev met 6-4, 6-7 en 6-4

Jannik Sinner klop Daniil Medvedev met 6-1 en 6-2

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.