Grofgeskut deur na Dubai-uitspeelstryde

Novak Djokovic. Foto: Twitter.

Novak Djokovic het net een wedstryd in die Verenigde Arabiese Emirate benodig om weer op alle suiers te vuur.

Die wêreld se voorste speler het met tye in die eerste ronde van die Dubai Duty Free-tenniskampioenskap teen Tomas Machac gesukkel, maar hy het die bal baie suiwer in sy jongste wedstryd teen Tallon Griekspoor geslaan.

Die Serwiër het die wedstryd met 6-2 en 6-3 gewen om vir nóg ʼn kwarteindstryd by ʼn ATP-toernooi te kwalifiseer.

“Ek moes in my eerste wedstryd baie hard werk om te wen, maar ek het nou vanuit die staanspoor goed gespeel. Ek was beslis nou beter as in die vorige wedstryd,” het Djokovic gesê.

Hy speel later vandag teen Hubert Hurkacz – die man teen wie Roger Federer vir oulaas op Wimbledon swaarde gekruis het – in een van die kwarteindstryde.

Daniil Medvedev het vir die kwarteindstryd in Dubai gekwalifiseer. Foto: Twitter.

Dan het Daniil Medvedev sy elfde ATP-toerwedstryd op ʼn streep gewen toe hy met Alexander Bublik afgereken het. Die eindtelling was 6-4 en 6-2 in sy guns.

Die Rus, wat bekend is vir die robotagtige presisie waarmee hy sy teenstanders uitoorlê, het ná afloop van die wedstryd erken dat sy jongste wenlopie hom beslis aanvuur om beter te speel.

“Selfvertroue is nou baie belangrik vir my en ek wil eintlik nie ophou speel nie. Ek voel fisiek baie beter as in my vorige toernooi in Doha en ek sien baie uit na my volgende wedstryde,” het Medvedev gesê.

Uitslae:

Hubert Hurkacz klop Pavel Kotov met 7-5 en 6-1

Daniil Medvedev klop Alexander Bublik met 6-4 en 6-2

Novak Djokovic klop Tallon Griekspoor met 6-2 en 6-3

Alexander Zverev klop Christopher O’Connell met 7-5 en 6-4

Lorenzo Sonego klop Felix Auger-Aliassime met 7-6 en 6-4

Kwarteindstryd-bepalings:

Alexander Zverev teen Lorenzo Sonego

Botic van der Zandschulp teen Andrey Rublev

Novak Djokovic teen Hubert Hurkacz

Daniil Medvedev teen Borna Coric.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Treurwilger ·

Novak vs Medvedev gaan weer ‘n riller wees!
Sterkte, Novak!
Mag die beste ou op die dag jy wees.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.