Groot boksgevegte op die horison

Die advertensie vir die komende boksgeveg tussen Eddie Hall en Hafthor Bjornsson. Foto: Twitter.

Die fynproewers mag dalk skepties wees, maar daar wag ’n paar groot boksgevegte op sportliefhebbers in die voorsienbare toekoms.

Pas nadat Hafthor Bjornsson ’n verstommende 501 kg opgetel het om Eddie Hall se rekord te verbeter, het die Yslandse reus die Britse sterkman tot ’n boksgeveg uitgedaag.

“Eddie, ek het so pas jou rekord verbeter en is nou gereed om jou in die kryt uit te slaan. Ek is gereed daarvoor, is jy?” het ’n veglustige Bjornsson gesê.

Hall het kort daarna die uitdaging aanvaar.

“Dit is nie omdat hy my rekord verbeter het of oor die bekgevegte nie. Ek het die uitdaging aanvaar omdat hy aanvoer dat ek gedurende die 2017 World’s Strongest Man-kompetisie gekul het,” het Hall geantwoord.

Albei het al die World’s Strongest Man-titel gewen, maar Bjornsson sal beslis die groter bokser wees.

Die Game of Thrones-akteur laat die skaal op 193 kg kreun, terwyl hy 2,05 m in sy sokkies staan. Daarteenoor weeg Hall 164 kg en is 1,9 m lank.

“Dit skeel my min of jy ’n regte reus is of nie. Ek gaan harder as jy oefen en voorberei; ek sal alles in my vermoë doen om in die kryt te klim en jou te vermorsel,” het die Engelsman gesê.

Wees dus gereed vir een of twee klipharde vuishoue voordat hulle waarskynlik al hygende hul asems probeer terugkry.

Sonny Bill Williams het op omstrede wyse vir Suid-Afrika se Francois Botha in 2013 gewen. Foto: Twitter.

Dan kan die 53-jarige Mike Tyson moontlik vir Sonny Bill Williams in die kryt aanvat.

Tyson het onlangs aangedui dat hy weer sy bokshandskoene nadergetrek het en bereid is om ’n paar rondes vir liefdadigheid te boks.

Sedertdien oefen hy weer kliphard en oefenmaats sê dit is asof hulle teen ’n 22-jarige skerm.

Op sy beurt is Williams – ’n voormalige Nieu-Seelandse rugbyster – onoorwonne ná sewe gevegte. Hy was egter twee jaar gelede laas in ’n bokskryt toe hy ook in ’n vertoongeveg in aksie was om geld vir liefdadigheid in te samel.

Die 34-jarige Williams is weliswaar jonger en groter as Tyson, maar dit is omtrent al wat in sy guns tel.

Tyson het 44 van sy gevegte met uitklophoue gewen. En as ʼn mens so na sy oefenvideo’s kyk, kan Iron Mike nog net so hard soos altyd slaan.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Michael 1 ·

Dit sal nogal interessant wees,my geld sal op Tyson wees .

twaalfboor ·

Nighty night Sonny Bill. Eerste rondte uitklop hou. Iron Mike gaan nog nie eers begin sweet nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.