Groot dinge wag dalk op Alcaraz

Spanje se Carlos Alcaraz. Foto: Javier Soriano/AFP.

Die 19-jarige Carlos Alcaraz is tans sesde op die ATP-ranglys nadat hy die afgelope naweek die silwerware in Madrid omhoog gehou het.

Op koers na goud in die Spaanse hoofstad het die jong speler onder meer met Rafael Nadal (6-2, 1-6 en 6-3) en Novak Djokovic (6-7, 7-5 en 7-6) afgereken, terwyl hy ook verspotmaklik met Alexander Zverev (6-3 en 6-1) in die eindstryd klaargespeel het.

Ja, Zverev het oor te veel laataand-kragmetings in die aanloop tot die eindstryd gekla, maar Alcaraz was in ’n meedoënlose bui en hy het omtrent die baan met die Duitser gevee.

Nou het Djokovic – die wêreld se voorste manstennisspeler – die jong Spanjaard uitgesonder as een van die gunstelingspelers om die komende Franse Ope-titel te wen.

“Carlos is ’n spesiale speler. As ’n tiener het hy reeds ’n spul rekords verbeter, terwyl hy ook al ’n hele paar belangrike titels agter sy naam het. Op hierdie stadium is hy ongetwyfeld die beste ter wêreld,” het die Serwiër gesê.

John-Laffnie de Jager stem met Djokovic se raakvat-opsomming saam.

Die gewese Suid-Afrikaanse tennisster is deesdae ’n topsportafrigter wat onder meer vir Tuks in die Varsitybeker bystaan.

“Mense praat al geruime tyd oor Carlos en hy het intussen bewys dat hy die ware Jakob is. Wat spelpeil betref is hy tans die beste ter wêreld,” het De Jager in ’n onderhoud met Maroela Media gesê.

Carlos Alcaraz en Rafael Nadal. Foto: Clive Brunskill/Getty Images/AFP.

Volgens De Jager is dit altyd interessant om te sien of ’n jong Turk oor die vermoë beskik om ouer en meer gevestigde spelers te klop.

Alcaraz het weliswaar in die Indian Wells-toernooi teen Nadal vasgeval, maar hy het hom ’n rukkie later in Madrid geklop terwyl hy ook al twee keer vir Stefanos Tsitsipas ore aangesit het.

“’n Taai Grand Slam-tweestryd wat oor vyf stelle beslis word, sal seker die ware toets wees, maar hy is sterk, beweeg ongelooflik goed op die baan rond en word nie sommer verbouereerd wanneer dinge nie dadelik volgens plan verloop nie.”

Sy vlughouspel (veral naby die net) het dalk nog ’n bietjie aandag nodig, maar dit sal verbeter soos wat hy meer wedstryde op verskillende bane speel.

Volgens De Jager hoef hy eintlik glad nie slapelose nagte hieroor te hê nie – hy gee vir Alcaraz steeds ’n skaflike 7/10 in sy vlughouspel-rapport.

Danksy moderne tegnologie kan ander spelers wel sy spel noukeurig ontleed in ’n poging om hom vroeg in toernooie uit te skakel.

“Maar selfs al weet sy teenstanders wat op hulle wag, moet hulle nog steeds goed genoeg wees om hom te klop.”

En soos wat dinge nou staan, gaan Carlos Alcaraz dit beslis nie vir sy teenstanders maklik maak nie.

  • Voorste tennisspelers ter wêreld:
  1. Novak Djokovic: 8 260 punte
  2. Daniil Medvedev: 7 990 punte
  3. Alexander Zverev: 7 020 punte
  4. Rafael Nadal: 6 435 punte
  5. Stefanos Tsitsipas: 5 750 punte
  6. Carlos Alcaraz: 4 773 punte
  7. Andrey Rublev: 4 115 punte
  8. Matteo Berrettini: 3 895 punte
  9. Felix Auger-Aliassime: 3 760 punte
  10. Casper Ruud: 3 760 punte.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.