Groot geveg wag op SA bokskampioen

Tian Fick. Foto: Verskaf.

Dit lyk of min dinge vir Tian Fick onderkry.

Suid-Afrika se swaargewigbokskampioen sou op 11 April teen Andriy Rudenko om die WBO-titel in die Oekraïense hoofstad Kiëf geboks het.

Maar die 37-jarige Rudenko het op die vooraand van die geveg positief vir Covid-19 getoets en die kragmeting is noodgedwonge na die einde van Junie uitgestel.

Soos wat enige sportman jou sal vertel: Dit is g’n maklike taak om jouself dan weer van vooraf sielkundig en fisiek voor te berei nie.

Tog sien Fick uit na die uitdaging.

Instagram-skermgreep.

“Genadiglik word ek nie sommer kwaad of aggressief nie; dus kan ek my probleme in my kop uitsorteer,” het hy vir Maroela Media gesê.

Hy gee egter toe dat dit taai op ’n man se lyf is – hoe ouer ’n mens word, hoe moeiliker is dit om al die klein beserings te bestuur.

Daar wag ook ’n baie groot geveg op hom ná die WBO-titelstryd, maar weens kontraktuele verpligtinge mag hy nie veel verklap nie, behalwe dat sy teenstander reeds ingestem het.

Intussen help hy vir Francois van Coke in die komende skouspel teen Derick Hougaard op 29 Mei in Pretoria. Hy sal ook een van die spanlede in die rock-ster se hoek wees.

“Francois vorder baie goed. Ek dink hy het ’n taaiheid in hom waaroor slegs boksers beskik:  Wanneer jy geslaan word, het jy die keuse om te vlug of om te veg; en hy het ongetwyfeld daardie fight.”

Volgens Fick – wat 2,03 m in sy sokkies staan – het hy onlangs saam met Van Coke in die kryt geklim om teen hom te skerm.

“Kyk, hy is ’n tawwe kêrel en hy kan op sy voete dink wanneer hy moeg is.  Hy beweeg goed en hy slaan goed; Derick is in vir ’n ding!

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

SomeOne ·

sterkte vir jou geveg , tian, doer ver waar jy min ondersteuning het

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.