Groot operasie wag op Michael Schumacher

Michael Schumacher Foto: digitaltrends.com

Die F1-legende, Michael Schumacher, sal binnekort deur ’n wêreldbekende chirurg geopereer word.  Dr. Phillippe Menasche, ’n Franse kardioloog en wêreldleier op die gebied van stamsel-behandeling, sal poog om die Ferrari-renjaer se senuweestelsel te herstel.

Die 51-jarige Schumacher het in 2013 ernstige hoofbeserings opgedoen ná ’n ski-ongeluk in die Franse Alpe.

Hoewel bitter min inligting oor sy toestand bekend is, het die voormalige F1-baas, Jean Todt, verlede jaar gesê Schumacher sukkel om te kommunikeer.

Todt het destyds in die Britse media gesê hy is hartseer dat sy vriendskap met Schumacher nooit weer dieselfde sal wees nie. “Daar is net nie meer dieselfde kommunikasie as vantevore nie.”

Sy voormalige Ferrari-spanmaat, Felipe Massa, het Schumacher verlede maand by ’n herehuis in Switserland – waar hy sedert 2014 behandel word – besoek.

“Michael is in ’n moeilike situasie en ons moet hom en sy gesin respekteer,” het Massa ná sy besoek gesê.

Nou berig die Italiaanse media dat dr. Menasche binne die volgende paar dae die operasie sal uitvoer.

Volgens die berigte sal die Franse dokter poog om Schumacher se beskadigde selle met gesondes te vervang wat uit sy bloed of beenmurg getrek word.

Argieffoto.

Menasche het vroeër bevestig dat Schumacher al vantevore hart- en vaskulêre chirurgie aan die Paris Georges Pompidou-hospitaal in Frankryk ondergaan het.

Hy het egter bygevoeg dat daar geen eksperimentele operasies gedoen is nie.

“Ek en my span is beslis nie besig met ’n eksperiment nie; dit is ’n aaklige term wat nie ooreenstem met ’n ernstige mediese siening nie,” het Menasche verlede jaar gesê.

Schumacher is die suksesvolste renjaer in F1-geskiedenis. Hy is sewe keer as die wêreldkampioen gekroon, terwyl hy 91 wedrenne in sy loopbaan gewen het.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

koos10 ·

Michael se vrou was nooit een vir die openbare oog nie, maar sy moet onthou dat hy deel was van die openbare lewe vir jare, en dit het ook vir hom sy geld laat maak. Ek dink sy moet ernstig besin om sy toestand so privaat te hou, ons wil ook graag weet, asb.

Willem ·

Sterkte vir hom en sy gesin. Mag die Here die dokter seën wat die operasie gaan doen

Anoniem ·

Dankie vir hierdie berig oor Michael. Vandat ek gehoor het van sy ongeluk het ek nog altyd gewonder hoe dit met hom gaan want ‘n mens het na sy ongeluk niks meer van hom in die media gelees nie.

Pandora ·

Baie dankie vir hierdie berig. Ons as gesin was groot Schumacher ondersteuners en ek volg oral enige nuus wat ek van hom kan. Hy was nog altyd ‘n vegter en ons as sy ondersteuners wens hom en sy gesin die beste toe – mag die operasie ‘n reuse sukses wees.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.