Grootste CrossFit-veld nog, máár…

Patrick Vellner. Foto: Facebook.

By vanjaar se CrossFit Spele sal 148 mans en 134 vroue meeding om Amerika se Mat Fraser en Australië se Tia Clair-Toomy te onttroon as die “fiksste man en vrou ter wêreld”.

Hulle sal egter hul kanse vinnig en met albei hande moet aangryp, want Dave Castro (Spele-direkteur) gaan die snoeiskêr behoorlik inlê.

Ná die eerste ronde oefeninge sal die veld na 75 atlete krimp. Dit sal gereeld kleiner gemaak word, tot daar net tien mans en tien vroue oorbly in die finale gespartel om met die goue medalje weg te stap.

Suid-Afrika sal vanjaar deur Jason Smith en Dina Swift verteenwoordig word. Smith was so ’n paar jaar gelede tiende by die Spele, terwyl dit Swift se debuut sal wees.

Intussen wonder die atlete watter planne Castro vir hulle in gedagte sal hê.

“Anders as oor die laaste paar jaar glo ek nie dit gaan ’n lang sessie wees wat jou uithouvermoë toets nie. Ek dink dit gaan waarskynlik ’n goeie mengsel van gimnastiek en gewigoptel wees, iets wat jou fiksheid vir so 10 tot 15 minute toets,” het die tweede fiksste man ter wêreld, Kanada se Patrick Vellner, gesê.

“Dit is eintlik ’n cool konsep, maar dit is jammer dat hulle dit so laat aangekondig het. Ek is seker daar is baie atlete wat ver sal reis net om aan een item deel te neem.”

Jonne Koski, wat in 2017 negende by die Spele geëindig het, glo dat die eerste oefensessie ’n goeie toets van die atlete se algehele fiksheid sal wees.

“Ek vermoed dit gaan ’n bietjie langer item wees, wat verskeie dissiplines sal toets. Ek is hoopvol dat ons sal moet swem, maar ek twyfel sterk of dit die geval sal wees!”

  • Die Spele begin op 1 Augustus in Madison, Wisconsin, VSA.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

J ·

n crossfitter stap in n kroeg in, hoe weet jy dit…….Hy/Sy sê jou!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.