Grootste sportskare nóg in Covid-19-era

Die Suncorp-stadion in Brisbane. Foto: Twitter.

Terwyl die meeste sportwedstryde nog agter geslote deure aangebied word – kyk net na die plaaslike Superrugby Unlocked-reeks en die pas voltooide Indiese Premierliga – het amper 50 000 entoesiastiese Australiese sportliefhebbers gisteraand ’n wedstryd in Brisbane bygewoon.

Maar in Australië werk dinge duidelik anders.

Queensland se premier, Annastacia Palaszczuk, het die groen lig gegee dat die Suncorp-stadion ten volle vir die finale wedstryd van die State of Origins-toernooi benut kan word.

Altesaam 49 155 toeskouers het dus op die stadion in Brisbane toegesak om die Rugby League-wedstryd tussen Queensland en Nieu-Suid-Wallis by te woon.

Die tuisskare het ongetwyfeld hul span tot groter hoogtes aangespoor en die Queenslanders het die kragmeting met 20 – 14 gewen.

Mediahuise van reg oor die wêreld bestempel dit as die grootste sportskare nóg in die Covid-19-era. Die bywoning oortref selfs die 46 061 toeskouers wat vroeër die Bledisloe-wedstryd tussen die All Blacks en Wallabies in Auckland bygewoon het.

Intussen is daar ook bevestig dat toeskouers by die komende krieketreeks tussen Australië en Indië toegelaat sal word.

Die Gabba (in Brisbane) sal tot 75% van sy kapasiteit gevul word, terwyl die ikoniese MCG in Melbourne 25% van sy toeskouer-kapasiteit sal kan hanteer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

FranWilder ·

Nie een persoon op daai photo dra ‘n masker nie, nie een nie.

Pietertjie ·

Ek wonder hoeveel van die toeskouers het covid opgedoen tydens die wedstryd. Seker ook nie een persoon nie

Saartjie ·

@FranWilder en @Pieter, is julle kommentaar daarop gemik om die bestaan van COVID-19 te ontken? As dit die geval is, vergewis julle asseblief van die situasie in Australië. Die regering in Queensland (waar Brisbane geleë is) het tot dusver geweldig streng beheer toegepas. Sedert die aanvang van die ‘lockdown’ is die grense na ander state gesluit en relatief min permitte is toegestaan wat mense toegelaat het om oorgrens te beweeg. Daar is tans ongeveer 13 (ja, dertien) aktiewe gevalle in Queensland.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.