Haas-baas sê Max kan titel wen

Max Verstappen vier ’n oorwinning saam met die Red Bull-span (23 Mei 2021) (Foto: Sebastien Nogier/various sources/AFP)

Volgens Guenther Steiner is Max Verstappen die gunsteling om vanjaar die F1-wêreldkampioen te word.

Die jong Red Bull-renjaer het tans die meeste punte (105) op die individuele punteleer, maar Mercedes en sy wêreldkampioen Lewis Hamilton (101) kan kwaai teenstand bied noudat die straat-wedrenne van Monaco en Azerbeidjan iets van die verlede is.

“Mercedes maak nou foute, want hulle is onder druk en moet meer kanse as vantevore waag,” het die hoof van die Haas-renspan gesê.

“Daarteenoor kwyt Red Bull se spanlede hulself goed van hul taak en ek is veral beïndruk deur Max Verstappen. Ek glo dit is binne sy vermoë om met die louere weg te stap.”

Die 23-jarige Nederlander was goed op koers om in Bakoe te wen, maar ’n ongeluk met die eindstreep in sig het egter sy kanse in die wiele gery. Sy spanmaat, Sergio Perez, was toe die uiteindelike wenner.

Verskeie voormalige renjaers, onder wie Jenson Button en Gerhard Berger, het al gesê dat Verstappen oor die meeste talent van al die bestuurders beskik. Hy is ook nie iemand wat sal skroom om kanse agter die stuur te waag nie.

“Max beskik oor ongelooflike vaardighede. Trouens, wanneer ’n mens van suiwer talent praat, glo ek hy is die talentvolste bestuurder in die sport se geskiedenis,” het Button gesê.

Tog sal Mercedes met mening by Sondag se Franse Grand Prix wil terugveg. Toto Wolff, spanbaas, het juis gewaarsku dat die span nie kan aanhou om punte weg te smyt nie. Hulle hou immers te veel daarvan om punte bymekaar te maak.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

2 Kommentare

jongste oudste gewildste
Kobus

Enigeiemand wat vir Hamilton weg ry is wenner

koos10

Max kan, maar ek glo nie die jaar nie. Hamilton kry alles van sy span af en het die beste kar. Tradisioneel is Merc ook elke jaar stadig uit die blokke en tel eers spoed op teen die middel van die seisoen. Jip ek wil graag sien dat Hamilton van sy troon afgegooi word, maar dat hy die beste ooit is, is waar. Dis egter vir my ‘n spies deur die hart as ‘n persoon groter wil wees as sy sport.