Hamilton baas in Rusland, Ferrari trap klei

Lewis Hamilton vier Sondag sy wen saam met sy spanmaat Valtteri Bottas van Finland. Bottas het die tweede plek verower. (Foto: Luca Bruno, AP)

Lewis Hamilton (Mercedes) kan reeds op 27 Oktober in Mexiko as vanjaar se Formule Een-kampioen gekroon word nadat hy Sondag die Russiese Grand Prix in Sotsji gewen het, want alles is nie pluis in die Ferrari-kamp nie.

Hamilton se spanmaat, Valtteri Bottas, was tweede, gevolg deur Charles Leclerc (Ferrari), Max Verstappen (Red Bull), Alexander Albon (Red Bull) en Carlos Sainz (McLaren).

Daar is nog vyf renne in vanjaar se reeks oor, maar Hamilton (322 punte), wat sy 82ste loopbaanoorwinning behaal het en sy negende sege vanjaar, is 73 punte voor Bottas (249) op die kampioenskapspuntelys. Hamilton het die kroon gespan toe hy boonop die bonuspunt wat op die spel vir die vinnigste rondte was, ook agter sy naam gevoeg het.

Daar is net ʼn verdere 130 punte in vanjaar se oorblywende ses renne op die spel, maar Hamilton is so ver voor, dat hy reeds ná die Mexiko-ren as wêreldkampioen, die sesde keer in sy loopbaan, gekroon kan word.

Dit sal baie goeie nuus wees vir die Mercedes-span, maar geen goeie nuus vir ondersteuners, TV-uitsaaiers en borge nie, want hoe gaan hulle die belangstelling gaande hou? Wie gaan oor ʼn jaar of twee onthou wie tweede, derde of vierde geëindig het?

Ferrari, wat die afgelope drie renne voor die Russiese Grand Prix gewen het, het Sondag groot planne gehad nadat Leclerc voor weggespring het, maar Vettel het al hul kaarte deurmekaar gekrap toe hy kort ná die wegspring vir Leclerc en Hamilton verbygesteek het.

Aikôna, het die span aanvanklik gesê, gee die jongeling kans om jou verby te steek.

Vettel wou glo nie die spanopdragte uitvoer nie, maar toe sy motor in die 28ste rondte ná ʼn kuipestop op die baan onklaar geraak het, was al Ferrari se drome daarmee heen.

Vettel het ná die ren verduidelik dat hy en Leclerc ʼn ooreenkoms gehad het en dat hulle hul taktiek voor die ren bespreek het. Die groot mikpunt was om eerste en tweede te eindig.

Leclerc het gesê dat Vettel in sy glystroom sou jaag om só vir Hamilton uit die tweede plek te hou.

Die groot vraag is wie om te glo en of Ferrari werklik weet wie hul voorste jaer is: Vettel, die viermalige wêreldkampioen met 53 oorwinnings en 118 podiumplekke agter sy naam, of die 21-jarige nuweling, wat met twee oorwinnings en nege podiumplekke tot dusver spog.

Dit pas in Mercedes se kraal, want dié span kan reeds ná die volgende ren, die Japanse Grand Prix op Suzuka, die vervaardigerstitel ʼn sesde opeenvolgende keer verower.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

koos ·

Baie verdag hoe Vettel se kar gebreek het toe hy na die 2de plek “geskuif” is. My eerste reakie was dat dit met opset was. Of dit Ferrari of hy was of die waarheid was sal ons nooit weet nie, maar dis duidelik dat alles nie wel is in die Ferrari kamp nie.

gindra ·

ek dink ook sy kar is af ge sit
als is glad nie wel by ferarri nie op die dag was vetel beter mar ferarri sukkel om sy span te lei

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.