Hamilton bly bo ondanks twee rooi vlae

Lewis Hamilton. (Foto: Bryn Lennon, Pool via AP)

Toe Formule Een-renne eers ʼn paar weke gelede hervat is vanweë die Covid-19-pandemie, was daar vrese dat die eerste paar renne tot swak renbesluite van die jaers of selfs ongelukke kon lei omdat hulle so lank nie gejaag het nie.

Dalk was dit Sondag op Mugello blote toeval, maar die Toskaanse Formule Een Grand Prix moes twee keer ná lang onderbrekings hervat word om wrakstukke op te tel na ʼn rits ongelukke en om die baanoppervlak te herstel.

Ongelukke is deel van die sportsoort, maar ai, soveel onderbrekings?

Vir die rekordboeke het Lewis Hamilton (Mercedes) sy 90ste loopbaanoorwinning behaal, met sy spanmaat, Valtteri Bottas, tweede, gevolg deur Alexander Albon (Red Bull), Daniel Ricciardo (Renault), Sergio Pérez jr. (Racing Point) en Lando Norris (McLaren).

Die veiligheidsmotor is reeds in die eerste rondte ontplooi ná ʼn ongeluk waarby Max Verstappen en Romain Grosjean betrokke was.

(Foto: AP Photo/Luca Bruno, Pool)

Die eerste rooi vlag (om die ren tydelik te staak) is in die agste rondte gewaai ná ʼn ongeluk (nogal in die pylvak) wat tot die einde van onder meer Antonio Giovinazzi, Kevin Magnussen en Nicholas Latifi se drome bygedra het.

Die tweede rooi vlag is met 12 rondtes oor gewaai nadat Lance Stroll ʼn lekband opgedoen het en in die veiligheidsmuur vasgejaag het.

Sy enjin het begin brand toe dit opgehys is en dit het tot ʼn tweede onderbreking gelei.

Op die ou einde het die ren weens die lang onbrekings ʼn volle twee uur en 25 minute geduur.

Vir Mercedes was dit weer ʼn vreugdevolle dag, maar vir Ferrari was sy 1 000ste F1-ren, op sy tuisbaan, ʼn nagmerrie, want Charles Leclerc en Sebastian Vettel het onderskeidelik negende en tiende (uit slegs 12 jaers wat die ren voltooi het) geëindig.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.