Gister op die Algarve-baan in Portugal het Lewis Hamilton met sy 92ste wedrensege nog een van die legendariese Michael Schumacher se rekords verbeter.
Ja, sy motor bied hom waarskynlik ’n ietwat onregverdige voorsprong, talle beskou hom as arrogant en nog ander stem glad nie saam met die politiek wat hy by die renbane inbring nie, maar 92 loopbaanseges is ’n indrukwekkende prestasie.
En hoewel sy woorde ná gister se wedren klink soos iets wat ’n skoolbemarker vir ’n plaaslike koerant (“trots, dankbaar en nederig”) sal stuur, het die 35-jarige Brit nou ’n rits rekords agter sy naam.
“Dit is baie moeilik om presies te beskryf hoe ek voel. Ek voel jonk en vol energie en natuurlik is ek baie dankbaar,” het hy in ’n onderhoud met Sky Sports F1 gesê.
Hamilton het sy eerste wedren in 2007 as 22-jarige in Kanada gewen en nou, 13 jaar later, kan hy ook Schumacher se rekord vir die meeste wêreldtitels (sewe) ewenaar.
Hy het 77 punte meer as sy naaste teenstander – sy Mercedes-spanmaat Valtteri Bottas – en kan reeds op 15 November in Turkye met die wêreldtitel wegry.
Volgens Hamilton knaag die senuwees selfs ná meer as 260 wedrenne.
“Mens sou dink dat ek nou al gewoond aan alles sou wees. Maar ek was steeds op my senuwees toe ek my handskoene aantrek en my helm opsit. Jy wonder oor dinge soos of jy op die dag goed genoeg is en of jy jou strategie kan onthou,” het hy gesê.
Hy is ook vol lof vir sy Mercedes-span.
“Ek werk saam met ongelooflike mense. Hulle is betroubaar en die motor het my net een keer in 79 wedrenne in die steek gelaat – ’n merkwaardige getuigskrif vir hul doeltreffendheid.”
’n Lys van Hamilton se rekords:
- Meeste wedrenseges: 92
- Meeste podiumplekke: 161
- Meeste punte: 3 687
- Meeste voorste wegspringposisies: 97
Lewis, dat jy goed gery het is nie te betwyfel nie, maar wat sou gebeur het as jou span vir Bottas die sagte bande gegee het waarvoor hy gevra het?