Hamilton dra Hongaarse F1-kroon ’n agtste keer

Max Verstappen, Lewis Hamilton en Valtteri Bottas op die podium. (Foto: Leonhard Foeger/Pool via AP)

Lewis Hamilton het Sondag op die Hungaroring-baan nóg ʼn hoofstuk by sy lang suksesverhaal gevoeg toe hy die Hongaarse Formule Een-ren verspot maklik gewen het.

Max Verstappen (Red Bull) was tweede, gevolg deur Hamilton se Mercedes-spanmaat, Valtteri Bottas, Lance Stroll (Racing Point), Alexander Albon (Red Bull) en Sebastian Vettel (Ferrari).

Dit was Hamilton, wat die 90ste keer in sy loopbaan in die voorste posisie weggespring het, se 86ste oorwinning en hy kruip nou al hoe nader aan Michael Schumacher se rekordgetal van 91 oorwinnings.

Dit was ook die agtste keer dat Hamilton in Hongarye kon wen nadat hy dit ook in 2007, 2009, 2012, 2013, 2016, 2018 en 2019 vermag het.

Schumacher spog ook met agt oorwinnings in Frankryk.

Om die Mercedes-span se oorheersing, veral oor Ferrari, te beklemtoon: Hamilton, wat deurentyd voor was, het Charles Leclerc reeds in die 46ste ronde ingehaal en verbygesteek. Sebastian Vettel moes in die 60ste ronde ook toesien hoe Hamilton verby hom flits. Het dit al ooit gebeur?

Lewis Hamilton. (Foto: Mark Thompson/Pool via AP)

Hamilton het ook kort voor die einde vir nog ʼn kuipestop aangemeld waar sy motor met sagte bande toegerus is. Dit het hom in staat gestel om Bottas se vinnigste rondetyd na 1:16.27 te verbeter.

Hamilton (63) is nou weer voor op die puntelys, gevolg deur Bottas (58) en Verstappen (33).

Plaas dit in perspektief: saam met Stroll (18 punte) wat agste is, het die laaste 12 jaers nog net 64 punte ingesamel.

Mercedes (121 punte) is ver voor in die vervaardigersafdeling, gevolg deur Red Bull (55) en McLaren en Racing Point (albei 40).

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Poertjie ·

F Merck raak nou regtig saai. Enige gemiddelde drywer sou met die Merc gewen het. Schumacher het van Ferrari ‘n wenspan gemaak en gehelp om Mercedes op die wenpad te sit. Gelukkig kan ons Moto GP geniet

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.