Hamilton laat Britte op Silverstone koning kraai

Mercedes-bestuurder Lewis Hamilton van Engeland ná sy oorwinning by Silverstone (14 Julie 2019) (Foto: AP Photo/Luca Bruno)

Lewis Hamilton (Mercedes) het Sondagmiddag op die Silverstone-renbaan die kersie op die koek ná ʼn heerlike middagmaal geplaas.

Ja, dalk was dit nou nie skaapboud met gebakte aartappels en soet pampoen vir ʼn Suid-Afrikaner nie, maar nie een Britse ondersteuner het gekla nie, want wat is nou lekkerder as ʼn Brit wat met ʼn Union Jack om die baan jaag nadat hy gewen het?

Hamilton het sy 80ste Formule Een Grand Prix-oorwinning behaal toe hy die Britse Grand Prix ʼn rekordgetal sesde keer in ʼn tyd van 1:21.08.452 gewen het. Hy is 24.928 sekondes ná hom gevolg deur Mercedes-spanmaat, Valtteri Bottas gevolg met Charles Leclerc (Ferrari), Pierre Gasly en Max Verstappen (albei Red Bull) en Carlos Sainz (McLaren) in die volgende vier posisies.

Hamilton het met sy sesde oorwinning in sy tuisland kleingeld gemaak van die vorige rekord van Jim Clark en Alain Prost (albei 5), gevolg deur Nigel Mansell (4) en Jack Brabham, Niki Lauda en Michael Schumacher, wat al drie die Britse Grand Prix drie keer gewen het.

Hamilton is nou 39 punte voor Bottas op die kampioenskapspunteleer nadat hy ʼn bykomende punt vir die vinnigste rondtetyd verower het.

Waar van vanjaar se renne maar saai en valerig was, was Sondag se ren vol hoogtepunte, goeie tweestryde en een of twee omstrede voorvalle, net waarvoor die ondersteuners gepleit het. Die belangrikste was in die 38ste rondte toe Sebastian Vettel (Ferrari) deur Verstappen verbygesteek is. In die volgende draai het Vettel in Verstappen se Red Bull vasgejaag en het albei op die gruis beland.

Verstappen kon wonderbaarlik voortjaag, maar Vettel se voorste drukvlerk was beskadig en hy moes kuipe toe. Kort hierna is hy ook deur die renbeamptes in kennis gestel dat hy met 10 sekondes gestraf is vir sy aandeel in die ongeluk. Hy het uiteindelik in ʼn droewige 16de posisie klaargemaak.

Vettel het ná die tyd aanspreeklikheid aanvaar en Verstappen om verskoning gevra, maar dit laat ʼn mens duiwelsadvokaat speel, want dit het die druk van sy spanmaat (Leclerc) afgeneem wat byna ongehoord derde kon eindig en nog ʼn podiumplek syne kon maak. Of lees ʼn mens te veel daarin?

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Cuda ·

Alle krediet vir Mercedes wat sedert die hibride era ‘ n on oorwinbare kar, jaar in en jaar uit ontwerp en bou. Ek dink egter die oorheersing laat F1 met heelwat probleme wat sy glans gaan verdoof. Dis vervelig as almal net na twee karre kyk wat mekaar troef jaar in jaar uit. Lewis sal nie erken kan word as “n legende nie. Legendes word gebou uit “gevegte” op die baan. So snaaks dat Merc in die vorige ren so “swak” was na die kretiek dat F1 vervelig is na die Franse GP. Dan weer so dominant in Engeland. Dit maak die probleem net groter om ‘n rat voor publiek se oë te probeer draai op mense te laat dink dat die sport nie vervelig is nie. So lief as wat ek vir F1 was, dink ek dit sal nooit weer wees soos die ou dae nie….

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.