Hamilton nie van plan dat Russell sy kollig steel

George Russell en Lewis Hamilton. Foto: John Thys/AFP.

Lewis Hamilton en George Russell vorm volgende jaar ’n splinternuwe vennootskap by Mercedes. En die verdedigende wêreldkampioen weet dat hy sy werk uitgeknip sal hê om by die jonger Brit kers vas te hou.

Die 23-jarige Russell vertoon tans glad nie sleg by sy huidige Williams-span nie, terwyl hy ook beïndruk het toe hy verlede jaar in Hamilton se plek in Bahrein gejaag het.

Sy sprokiesverhaal was toe egter deur ʼn onvergeeflike fout deur die Mercedes-renspan gekelder toe hulle sy motor met verskillende bande toegerus het.

Russell se vertoning agter die stuur van ’n renmotor is egter van só aard dat sommige kenners meen dat hy vir Hamilton ’n ding of twee sal kan wys wanneer hulle al twee in ’n Mercedes jaag.

En die 36-jarige motorsportveteraan is glad nie van plan dat die jong Turk sy kollig steel nie.

“Ek sien baie van dieselfde eienskappe in George as wat ek gehad het toe ek my loopbaan in die F1-begin het: Hy gaan honger vir sukses wees en alles in die stryd werp om dit te bereik,” het hy gesê.

Volgens Hamilton – wat onlangs sy 100ste wedren gewen het – sal Russell die volle ondersteuning van die span geniet en hulle sal ook probeer om as spanmaats saam te werk.

“Ons het respek vir mekaar, maar ek weet hy gaan wedrenne wen. Ek weet ook dat hy vinnig gaan wees en dat daar wel kere sal wees waar hy voortou sal neem; en ek is oukei daarmee. Ek gaan net harder werk om toe te sien dat dit nie gebeur nie.”

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.