Hamilton op sy hoede vir ’n vlieënde Red Bull

Red Bull se Max Verstappen en Mercedes se Lewis Hamilton. Foto: Guiseppe Cacace/AFP.

Lewis Hamilton het weliswaar die eerste wedren van die F1-kalender in Bahrein gewen, maar hy weet dat vanjaar moontlik ’n opdraande stryd vir Mercedes kan wees.

Max Verstappen het hom tot die uiterste in sy Red Bull-renmotor beproef en Hamilton het naelskraap met 0,745 sekondes gewen.

Tog was dit slegs die derde keer in die 36-jarige Brit se roemryke loopbaan dat hy die openingsren van die seisoen kon wen.

Die wêreldkampioen het egter nie doekies omgedraai toe hy oor Red Bull se aanslag gepraat het nie.

“Ek word jaarliks gepols oor wanneer ek nou by die toppunt van my vermoë is. Ek dink ek het dit nou min of meer bereik, terwyl Max ook uitstekend bestuur,” het Hamilton gesê.

Volgens Hamilton is vanjaar die taaiste begin tot enige seisoen in sy loopbaan, terwyl die onvoorspelbaarheid van F1 tot die drama bydra.

“Ek dink Red Bull vertoon tans ongelooflik sterk en ons sukkel om in die kwalifiserende rondes by hulle te bly. ’n Mens weet egter nooit hoe hulle in ander plekke gaan vaar nie; dalk vertoon hul motor selfs beter in ander wedrenne. Ek is egter oorgehaal vir enige uitdaging.”

Vroeër het Nelson Piquet, die voormalige F1-wêreldkampioen, in ’n onderhoud gesê Verstappen sal vir Hamilton ore aansit as hulle al twee agter die stuur van ’n Mercedes sou inskuif.

“As Max vir Mercedes gejaag het, is ek daarvan oortuig dat hy vir Lewis ’n ding of twee sou wys,” het Piquet vir Motorsport.com gesê.

“Max is baie meer aggressief. Natuurlik maak hy dan meer foute, maar ek glo dat hy beter as Lewis is.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.