Hamilton raap oorwinning weg voor Verstappen

Max Verstappen en Lewis Hamilton na afloop van Sondag se ren. (Foto: Emilio Morenatti/POOL/AFP)

Die Mercedes-renspan het Sondagmiddag in Barcelona kat en muis met die Red Bull-span gespeel om seker te maak dat Lewis Hamilton ʼn oorwinning in die Spaanse Formule Een-Grand Prix behaal.

Max Verstappen (Red Bull) was tweede, Valtteri Bottas (Mercedes) derde, Charles Leclerc (Ferrari) vierde, Sergio Perez (Red Bull) vyfde en Daniel Ricciardo (McLaren) sesde.

Mercedes het voor die ren vertel dat hulle net een keer in die kuipe sou aandoen om bande om te ruil, maar in die 44ste rondte het hulle die Red Bull-span onkant betrap toe Hamilton ʼn tweede keer in die kuipe aangedoen het.

Verstappen was met 22 sekondes voor toe Hamilton die kuipe verlaat het, maar met varser bande was dit net ʼn kwessie van tyd voordat Hamilton vir Verstappen sou inhaal.

Hamilton het in die 60ste van 66 rondtes verby Verstappen geskuif om enduit voor te bly.

Dit was sy 98ste loopbaansege en wat sy oorwinning soveel soeter maak, is dat hy Saterdag die 100ste keer in sy loopbaan die voorste wegspringposisie beklink het.

Die Red Bull-span het vier rondtes voor die einde wel vir Verstappen aangesê om bande te ruil. Hy kon toe darem die bonuspunt vir die vinnigste rondtetyd (1:18.149 sekondes) aanteken, maar die span sal moet erken dat hulle deur Mercedes se strategie bloedneus gegee is en dus is dit terug tekenbord toe.

Hamilton, met drie oorwinnings vanjaar, loop met 94 punte voor op die kampioenskapspunteleer, gevolg deur Verstappen (80) en Bottas (47).

Die volgende ren is op 23 Mei in Monaco.

Dit was Sondag Hamilton se sesde oorwinning en vyfde opeenvolgende sege in die Spaanse Grand Prix.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Thom ·

Bo-gemiddelde bestuurder in seker die beste F1-motor van alles tye .

Nico Strydom ·

Dagsê koos10
Jammer vir die oorsig, die berig is reeds gewysig.
Vriendelike groete
Maroela Media

Piet Snot ·

My hart gaan uit na Hamilton. Weereens ‘n bewys van sy ondraaglike verdrukking aan die hande van die rassistiese F1 gemeenskap.
Viva BLM!

Piet Snot ·

Manne, verstaan julle nie sarkasme nie?
Dit sukkel maar, lyk dit my.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.