Hamilton sê Bottas verdien meer lof

Lewis Hamilton. (Foto: Bryn Lennon, Pool via AP)

Die vlieënde Fin Valtteri Bottas mag dalk vanjaar tweede viool vir Lewis Hamilton speel, maar die Brit het in ’n onlangse onderhoud gesê sy Mercedes-spanmaat verdien baie meer lof as wat hy kry.

Hamilton verbeter tans die een F1-rekord ná die ander en ’n rits seges beteken dat hy 282 punte op die punteleer het. Bottas is in die tweede plek met 197 punte.

“Valtteri kry nie altyd die nodige krediet nie, maar hy is ’n ongelooflik vinnige renjaer,” het Hamilton vir die Nederlandse Ziggo Sport-stasie gesê.

Bottas het vier keer hierdie seisoen ’n vinniger kwalifiserende tyd as Hamilton opgestapel – in Oostenryk, Silverstone, die Nürburgring en verlede week in Portugal – maar die geruite vlag word gereeld geswaai wanneer die Brit oor die wenstreep jaag.

“Ek dink hy is beter as die meeste ander ouens hier; nie net wat bestuursvernuf betref nie, maar ook wat sy ingesteldheid en benadering betref.”

Valtteri Bottas. Foto: AP Photo/Nelson Antoine

Bottas het op sy beurt in ’n onlangse onderhoud gesê dat hy nie net met die bestes kan saamgesels nie, maar hulle sommer ook ’n ding of twee kan wys.

“Ek glo wanneer ek op my beste is, kan ek beter as Lewis vertoon. Daar is natuurlik dae wanneer hy ongetwyfeld beter bestuur en in die afgelope paar jaar dat ek sy spanmaat is, het hy beslis die oorhand gehad,” het Bottas gesê.

Hamilton se politieke oortuigings oorskadu egter soms sy prestasies op die renbaan, terwyl Bottas se aandag nie sommer afgetrek word nie.

“Ek doen nie die politieke ding nie; ek is net mal daaroor om aan wedrenne deel te neem. Ek hou van taai maar regverdige aksie op die baan en dit is ook hoe ek elke wedren wil aanpak.”

Uitslae van die 2020-seisoen:

  • Oostenrykse GP: Bottas (eerste); Hamilton (vierde).
  • Steiermark GP: Hamilton (eerste); Bottas (tweede).
  • Hongaarse GP: Hamilton (eerste); Bottas (derde).
  • Britse GP: Hamilton (eerste); Bottas (elfde).
  • Silverstone GP – 70ste herdenkingswedren: Hamilton (tweede); Bottas (derde).
  • Spaanse GP: Hamilton (eerste); Bottas (derde).
  • Belgiese GP: Hamilton (eerste); Bottas (tweede).
  • Italiaanse GP: Bottas (vyfde); Hamilton (sewende).
  • Toskaanse GP: Hamilton (eerste); Bottas (tweede).
  • Russiese GP: Bottas (eerste); Hamilton (derde).
  • Eifel GP: Hamilton (eerste); Bottas (nie die wedren voltooi nie).
  • Portugese GP: Hamilton (eerste); Bottas (tweede).

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.