Hamilton se Mercedes het nou net te veel spoed

Lewis Hamilton het met ’n merkwaardige terugvegpoging in sy Mercedes vorendag gekom. Foto: Lars Baron/AFP.

Is dit ’n renjaer se vernuf agter die stuur of die gehalte van sy renmotor wat vir podiumplekke en wêreldtitels sorg?

Die afgelope naweek in São Paulo het Lewis Hamilton sy pad van tiende na eerste oopgeveg, en hoewel Max Verstappen hard probeer het om weerstand te bied, was sy Red Bull net nie opgewasse teen die vlieënde Mercedes nie.

“Dit was so te sê onmoontlik om vandag by Hamilton kers vas te hou. Max het sy heel beste gegee, maar hy het uiteindelik nie ’n kans gestaan nie,” het Christian Horner (Red Bull-spanbaas) gesê.

Selfs al is die verdedigende wêreldkampioen op die wegspringrooster in Brasilië gestraf, beteken sy vuurwarm enjin dat hy hom deesdae nie veel daaraan hoef te steur nie.

Volgens die wedrendata was Hamilton met tye amper 20 km/h vinniger as Verstappen.

“Mercedes se spoed oor ’n reguit gedeelte van die pad met daardie nuwe enjin is werklik indrukwekkend. Nodeloos om te sê kon Max nie daarteen verdedig nie; dit is ’n kragtige wapen om in jou arsenaal te hê.”

Helmut Marko, die voormalige Oostenrykse renjaer en een van Red Bull se raadgewers, meen dat daar nou ’n opdraande stryd op Verstappen kan wag.

“Ondanks Max se voorsprong op die jaerspunteleer, dink ek dat ons harde bene sal kou as Hamilton die enjinvoordeel handhaaf.  Ons het nog nie vantevore só ’n enjin van Mercedes gesien nie.”

Tog het Fernando Alonso vantevore gesê dat Hamilton onder druk kan vou, maar die nuwe enjin – sy vyfde van die seisoen – kan die pendulum in sy guns swaai.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Frans ·

Dit baie duidelik dat Mercedes Benz nie omgee om die toegelate enjinvervangings te oorskry nie en omdat die uitset van ‘n nuwe enjin en vlerk ontwerp hul tot 30 km op die peilvlak vinniger gemaak het kan hul die ‘grid penalties’ oorkom.
Persoonlik sou ek reken omdat ‘n F1 enjin gewoonlik tot 7500 km hou teenoor Mercedes tans 2500 behoort die ‘grid penalties’ veel hoër te wees want wat Mercedes tans doen is niks meer as boereveneukery en dit maak Hamilton nie ‘n beter bestuurder nie.
Dit is duidelik dat Mercedes Benz die vermoë het om ander spanne finansieël uit te bestee en is hul enjinvervaardiger reeds besig om nog ‘n nuwe enjin vir Lewis te bou wat die hele F1 kompetisie begin belaglik maak.

Helgard ·

Net oor 19km/h nie 30km/h nie. Alles binne die reels.

Dit gaan net werk op sekere bane waar daar meer straight sectors is soos op Interlagos.

Hulle vat wel ‘n vetkans, die enjin word gedruk baie verder as waarvoor dit ontwerp is en as jy 5de plek wegspring is jou kans groter om betrokke te wees in turn 1 bondel ongeluk.

Frans ·

Alhoewel nie die vinnigste spoed deur ‘n F1 motor nie het Lewis 362.3 kmpu aangeteken
in die oefening en dit is vir 2200 meter bo seevlak veel vinniger as enige ander motor op die baan.
Dit beteken dus dat sodra Lewis binne 1sekonde in DRS (Drag resistance ) deel van die baan kom veral op die peilvlak is daar nie veel wat ander kan doen nie.Om die kompetisie dus meer gelyk te maak behoort die ‘grid penalties’ mi dus veel hoër te wees.

piet ·

Nie verniet die wereldrekord vir meeste wenne nie. Uitstaande jaer en ‘n goeie kar.

Annakapat ·

Frans, niks nuuts om te sê nie? Jy het al dié lang relaas genoem.

piet ·

Wat verhoed Red Bull om meer nuwe enjins te gebruik.. of is hulle bang dat hulle nie die “penalties” wat Mercedes kry, kan oorkom nie?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.