Hamilton sit met ’n woema-kopseer

Lewis Hamilton. Foto: Andrej Isakovic/AFP.

Dinge gaan tans nie te goed met Lewis Hamilton nie.

Die sewemalige wêreldkampioen het die Emilia Romagna Grand Prix in die 13de plek afgesluit, sy spanmaat George Russell het weer eens beter as hy gedoen en ’n vlieënde Max Verstappen het sy Mercedes ingehaal en terstond verbygesteek.

In ’n F1-wedren word die agterosse gereeld deur die voorlopers verbygesteek, maar dit moet veral vir Hamilton ’n bitter pil wees om te sluk; hy is immers gewoond aan ’n kragtige vertoning agter die stuur van sy renmotor.

Nou het Red Bull se Helmut Marko geen genade getoon in sy kritiese ontleding van die Mercedes-renjaer se vertoning in Italië nie.

“Max het hom lelik verbygesteek. Dalk begin Lewis nou daaraan dink dat hy miskien al verlede jaar sy uittrede moes aangekondig het,” het die 78-jarige oudrenjaer gesê.

Maar volgens Christian Horner (Red Bull-spanbaas) is die seisoen nog jonk – daar wag immers ’n verdere 19 wedrenne op die kalender en Mercedes is nie verniet die verdedigende vervaardigerskampioen nie.

“Dit moes ’n moeilike wedren vir hom gewees het en dit is beslis nie iets waaraan hy gewoond is nie. Maar dit is nie asof hy vergeet het hoe om te bestuur nie – skaars ’n paar maande terug het hy en Max nog sake om  die wêreldtitel uitgespook,” het Horner gesê.

“Ek glo Mercedes sal die tegniese kwessies uitsorteer. Ons kan nie nou al enigiemand afskryf nie omdat daar nog so baie water in die see moet loop.”

Op sy beurt meen Mercedes se Toto Wolff dat Hamilton ’n meer bestendige en sterker motor verdien.

“Lewis is die beste renjaer ter wêreld, maar hy het net nie tans die nodige ondersteuning nie. Ons sal moet hard werk om ’n oplossing te vind.”

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Groen Ghoen ·

So val die helde: Het die vere die voël gemaak? As seker een van die mees arrogante renjaers ooit het ek weinig simpatie. Gemeet teen die nederigheid van Schumacher is Hamilton ‘n groot verleentheid vir alle F1 aanhangers.

Carlize ·

Ek is ‘n groot F1 aanhanger en Hamilton ondersteuner en ek dink dit is arrogant om te veralgemeen dat hy ‘n verleentheid vir “alle” F1 aanhangers is. Opinies kan gelewer word, maar Hamilton het volgens statistieke bewys hy bly die beste ooit. Die “nederigheid” van Schumacher is weereens n subjektiewe opinie.

Vonkprop ·

Hamilton was goed, maar hy is nie die beste ooit nie. Sy rekords sal verbeter word.

Frans ·

Omstandighede verskil en hoemeer ondersteuning van elektronika jaers kry hoe onbilikker word die vergelyking.Hamilto sou nooit in die era van renjaers soos Juan Manuel Fangio oorleef het.
Dit is die probleem met vandag se moderne passasier motors.Die elektroniese bybehore skep ‘n valse gerustheid en bestuurdersvertroue.

Manie ·

Kon net die laaste 6 jaar presteer toe sy motor veel beter as die res was. Noudat hy ‘n gemiddelde motor bestuur en gelyk moet meeding, kan hy nie presteer nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.