
Foto: Instagram.
Bespiegel maar soveel julle wil, maar ek sal self besluit wanneer my F1-loopbaan verby is.
Dít is – as ’n mens tussen die reëls van ’n Instagram-plasing kan lees – die boodskap wat Lewis Hamilton aan sy kritici en ondersteuners wil uitstuur.
In die afgelope vier wedrenne moes die sewemalige wêreldkampioen met net ’n derde, tiende, vierde en 13de plek tevrede wees.
Die 37-jarige Brit sukkel om by Charles Leclerc en Max Verstappen kers vas te hou, terwyl die jong George Russell gereeld beter as hy vaar.
Boonop het die ondenkbare – as jy nou ’n stoere Mercedes-ondersteuner is – verlede naweek in Italië gebeur: ’n Onverskrokke Verstappen het sy aartsvyand ingehaal en terstond verbygesteek.
In ’n F1-wedren word die agterosse gereeld deur die voorlopers verbygesteek, maar dit moet veral vir Hamilton ’n bitter pil wees om te sluk; hy is immers gewoond aan ’n kragtige vertoning agter die stuur van sy renmotor.
Riemtelegramme oor Hamilton se frustrasie en selfs moontlike uittrede het ’n rukkie later die ronde begin doen. Red Bull se Helmut Marko het selfs gesinspeel dat die Mercedes-renjaer al verlede jaar sy valhelm moes weggebêre het.
“Ek werk nog aan my meesterstuk en sal self besluit wanneer dit klaar is,” het die beleërde Hamilton op Instagram gesê.
Hy het ook in ’n vorige onderhoud met Sky Sport gesê hy sal aanhou om sy bes op die renbaan te doen.
“Selfs al gaan dinge tans nie baie goed nie, sal ek nie handdoek ingooi nie. Dit is net nie in my DNS nie.”
- Jongste F1-jaerspunteleer:
- Charles Leclerc: 86 punte
- Max Verstappen: 59 punte
- Sergio Perez: 54 punte
- George Russell: 49 punte
- Carlos Sainz: 38 punte
- Lando Norris: 35 punte
- Lewis Hamilton: 28 punte
- Valtteri Bottas: 24 punte
- Esteban Ocon: 20 punte
- Kevin Magnussen: 15 punte
O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.
3 Kommentare
Aag shame ne !!!
Who cares
Ja toe, laat jy saam met jou BLM maatjies aan optogte gaan deelneem en brand alles af.