Hamilton wil Bottas by Mercedes hou

Valtteri Bottas. Foto: Patricia de Melo Moreira/AFP.

Dit lyk of George Russell vir Valtteri Bottas uit sy Mercedes-stoel gaan lig. Maar as dit van Lewis Hamilton afhang, sal die vlieënde Fin steeds sy spanmaat in 2022 wees.

“Ja, Lewis het vir my gesê dat ek sy spanmaat moet bly. Ons werk goed saam, maar renjaers het nie juis ’n invloed op die uiteindelike besluit nie,” het Bottas in ’n onderhoud gesê.

Die 31-jarige Bottas is sedert 2017 deel van Mercedes se suksesvolle vervaardigerskampioenskap-veldtogte, maar hy het nog nie juis veel van ’n individuele aanslag teen Hamilton se kroon geloods nie.

“Ek het nog altyd gesê dat Valtteri ’n ongelooflike spanmaat is. As ek eerlik moet wees, glo ek dat ons tans die beste kombinasie is om dinge by Mercedes vorentoe te neem. Maar dit gaan nie vir altyd dieselfde bly nie,” het Hamilton al vantevore gesê.

Bottas is tans vierde op die jaerspunteleer – 87 punte agter sy spanmaat. Hy is deesdae ook nie almal se gunsteling-renjaer nie: Sy remblaps in Hongarye het gesorg dat vyf motors uitgeskakel is.

Indien Toto Wolff (Mercedes-spanbaas) sou besluit om Bottas te laat gaan, kan hy moontlik weer sy pad na Williams – ’n span saam met wie hy nege keer op die podium gestaan het – vind.

Maar ten spyte van Hamilton se lof, sluk die vurige Fin by tye waarskynlik swaar aan die Brit se voorkeurbehandeling.

Tydens vanjaar se Franse Grand Prix het Bottas se frustrasie oorgekook toe sy span nie na sy versoek geluister het om die kuipe twee keer te besoek nie.

“Waarom luister niemand na my wanneer ek sê dit gaan ’n tweestop-resies wees nie?” het hy kwaai oor die radio gevra.

Dan glo hy dat hy beter as Hamilton kan vertoon wanneer hy op sy beste is.

“Daar is natuurlik dae wanneer hy ongetwyfeld beter bestuur en die afgelope paar jaar wat ek sy spanmaat is, het hy beslis die oorhand gehad,” het Bottas gesê.

Hamilton se politieke oortuigings oorskadu egter soms sy prestasies op die renbaan, terwyl Bottas se aandag nie sommer afgetrek word nie.

“Ek doen nie die politieke ding nie; ek is net mal daaroor om aan wedrenne deel te neem. Ek hou van taai maar regverdige aksie op die baan en dit is ook hoe ek elke wedren wil aanpak.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Racheltjie Debeer ·

Hamilton is seker bang Bottas sit hom ore aan as hy na ‘n ander span gaan.

Jack Russ1 ·

Hy is seker bang sy volgende spanmaat gaan nie sy opponente uithaal soos wat Bottas vir hom doen nie

Stefaan ·

Hy weet Russell is ‘n bedreiging as hulle in dieselfde motors jaag.

Eugene ·

Met Bottas in die span, swaai Hamilton die septer. Met Russel as sy spanmaat, weet hy dat hy tweede gaan kom.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.