Handskud-drama op Roland-Garros

Aryna Sabalenka en Marta Kostyuk voor hul wedstryd. (Foto: Thomas Samson/AFP)

Marta Kostyuk is uitgejou nadat sy geweier het om Aryna Sabalenka se hand te skud ná hul Franse Ope-kragmeting in Parys.

Kostyuk, ʼn Oekraïner, het haar Belarussiese teenstander geïgnoreer nadat sy met 6-3 en 6-2 die onderspit gedelf het. Sy het reguit na die wedstrydskeidsregter geloop, haar bedank en van die baan gestap.

Die Kiëf-boorling het tydens die Australiese Ope gesê dat sy weier om die hand van enige speler van Rusland of Belarus te skud.

Sabalenka, die wêreld se naasbeste vrouespeler, moes later ook tydens die mediakonferensie bontstaan om die joernaliste se vrae te beantwoord.

“Ek het al male sonder tal gesê dat niemand – nóg Russiese nóg Belarussiese atlete – die oorlog ondersteun nie. Hoe op dees aarde kan ons dit doen? Gewone mense sal dit nooit ondersteun nie,” het die 25-jarige speler gesê.

Sy was ooglopend ook moeg om heeltyd vrae oor die konflik te beantwoord.

“Moet ons dit heeltyd sê [dat ons nie die oorlog ondersteun nie]? As ons ʼn einde aan die oorlog kon bring, sou ons dit beslis gedoen het, maar dit is ongelukkig nie in ons hande nie.”

In die mansafdeling het Andrey Rublev, Stefanos Tsitsipas en Karen Khachanov hul wedstryde gewen, terwyl Hubert Hurkacz harde bene teen David Gofin gekou het.

Die Poolse speler het uiteindelik die kragmeting met 6-3, 5-7, 6-4, 2-6 en 6-4 beklink.

Uitslae:

Andrey Rublev klop Laslo Djere met 6-1, 3-6, 6-3 en 6-4

Lorenzo Musetti klop Mikael Ymer met 7-5, 6-2 en 6-4

Nuno Borges klop John Isner met 6-4, 5-7, 7-6, 4-6 en 7-6

Stefanos Tsitsipas klop Jiri Vesely met 7-5, 6-3, 4-6 en 7-6

Thanasi Kokkinakis klop Dan Evans met 6-4, 6-4 en 6-4

Karen Khachanov klop Constant Lestienne met 3-6, 1-6, 6-2, 6-1 en 6-3

Hubert Hurkacz klop David Gofin met 6-3, 5-7, 6-4, 2-6 en 6-4

Daria Kasatkina klop Jule Niemeier met 6-3 en 6-4

Jessica Pegula klop Danielle Collins met 6-4 en 6-2

Aryna Sabalenka klop Marta Kostyuk met 6-3 en 6-2

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Tubac ·

Ten minste is sy eerlik en nie agterbaks nie. Die skare het haar uitgejou maar hulle regerings pas sanksies toe. Hoe nou?

Amelia ·

Goed genoeg om teen te speel maar nie goed genoeg om mee blad te skud nie? Nee wat, sulke slegte maniere is nie tennis nie. Die rede waarom Russiese spelers steeds speel ten spyte van die oorlog is omdat daar in tennis ‘n erkenning is dat hulle individue.

Hoekom ·

Goed so, die regering van haar land(Belarus) het toegelaat dat rusland oorlogsmisdade pleeg oor hulle grense, en geen Belarussiese burger het ‘n oog gewink daaroor nie. Die wat Marta Kostyuk uitjou en sê sy het slegte maniere praat uit twee monde, want ek weet vir ‘n feit daar is sommige mense huidig en histories wie se hande julle nie sal wil skud nie…

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.