Harde werk lê nog vir Proteas voor

Bongi Msomi (kaptein) soek ondersteuning tydens gisteraand se wedstryd teen Nieu-Seeland. Foto: Twitter via England Netball.

Die Protea-netbalspan het gisteraand hul derde nederlaag van die vierhoekige reeks in Londen gely toe Nieu-Seeland hulle met 54 – 34 geklop het.

Hoewel dit ’n verbetering op hul vertonings in die eerste twee wedstryde is, worstel Dorette Badenhorst (afrigter) waarskynlik nog met meer vrae as antwoorde.

Spandiepte is ongetwyfeld ’n probleem en die Proteas mis spelers soos Karla Pretorius en Shadine van der Merwe.

Die Suid-Afrikaners maak verder nog ’n hele paar ongedwonge foute op die baan en die Kiwi’s het gisteraand hopeloos te veel beweegruimte in die doelsirkel geniet.

Maia Wilson en Grace Nweke kon doodluiters hul pogings reg onder die doelpaal sink, terwyl Ine-Marí Venter met ’n paar langafstandpogings tevrede moes wees. Toegegee, die 26-jarige doel het haarself goed van haar taak gekwyt en Badenhorst (sowel as haar Saracens Mavericks-spanmaats) kan trots wees op haar vertoning.

Maar gelukkig begin ondersteuners ’n bietjie lig aan die einde van die tonnel gewaar.

Die Proteas het vir eens nie ná twee kwarte gehensop nie en hulle het vir die volle 60 minute mededingende netbal gespeel.

Die finale kwart (wat hulle met 16 – 11 gewen het) was hul beste vertoning van die reeks tot op hede.

“Ons moes baie hard in die eerste 45 minute van die wedstryd werk, maar ons het goed in die laaste kwartier vertoon,” het Badenhorst gesê.

“Ek erken dat ons nog ’n lang pad moet stap wat gereedheid betref. Ons is in aksie teen spelers wat in professionele ligas speel; ons moet dus seker maak dat ons spelers wat plaaslik speel meer wedstrydtyd kry.”

Die Suid-Afrikaners speel vanaand weer teen die Kiwi’s om die derde plek uit, terwyl Engeland en Australië sake om die reekslouere sal uitspook.

Die uitspeelaksie begin vanaand om 19:15.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

piet ·

Vandat die Aussie afrigter weg is, val dinge uitmekaar. Die Aussie het hulle mooi opgebou om baie kompeterend te wees. Kyk hoe lyk dit nou.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.